MBOMBELA – ‘n Dag voor me. Nicolene Prinsloo (44) haar been in ‘n fratsongeluk verloor het, het sy aan ‘n vriendin opgemerk dat “die ongeluk haar ry”.
Prinsloo het onlangs eers weer begin werk nadat sy van ‘n ernstige motorongeluk vroeër hierdie jaar herstel het. Sy was opgewonde om weer op haar Honda-motorfiets wat in Gauteng gestaan het en na Mbombela gebring is, te klim. Prinsloo het Saterdag in die omgewing van Mbombela Stadion gaan ry toe die ongeluk om 12:00 gebeur het.
Daar word gegis oor die presiese oorsaak maar ‘n Facebook-vriendin, me. Lizanne Peyper het Saterdag op sosiale media die volgende geskryf: “Sy het gisteraand die fiets gekry en genoem dat sy lanklaas gery het. Ons het voorgestel dat sy dalk by die stadion oefen, aangesien die pad stil is. Sy het ‘n randsteen getref en toe ‘n paal.”
Die moontlikheid word ondersoek dat Prinsloo se regterbobeen op impak met die paal morsaf gesny is.
“Haar been het ‘n ent van haar gelê en is ook hospitaal toe geneem, maar kon ongelukkig, weens die skade aan die are, nie gered word nie,” het ‘n ooggetuie aan Laevelder gesê.
Netcare 911 het Prinsloo na Mediclinic Nelspruit geneem waar sy steeds behandel word. Sy het ook haar ander been en beide polse gebreek. Sy het twee volwasse kinders wat hulle Mbombela toe gehaas het.
Timbali se raad, waar Prinsloo werksaam is, het gesê dat hulle met groot spyt van die ongeluk kennis neem. Hulle het haar ‘n vinnige herstel toegewens. Hoof-uitvoerende beampte van Timbali, me. Louise de Klerk, het gesê dat hulle haar ‘n spoedige herstel toewens. “Wees verseker van ons ondersteuning en mag jy geseën word in hierdie tyd. Hê geloof in die Vader.” Me. Liza Pillay, ‘n woordvoerder van Mediclinic Nelspruit, het gesê haar toestand is stabiel.
