MBOMBELA – ‘n Swak skut het sy teikens tydens plaasaanvalle en rooftogte misgeskiet, maar is nogtans Dinsdag tot 104 jaar tronkstraf in die Nelspruit Streekshof gevonnis.
Lorenzo Mazunze (33) is Dinsdag aan huisbraak skuldig bevind met die doel om te roof, poging tot moord, betreding, gewapende roof, opsetlike saakbeskadiging en diefstal. Hierdie oortredings verskyn saam met ‘n skuldigbevinding aan moord op sy kerfstok. Hy is in 2012 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis en gaan ná Dinsdag se skuldigbevinding en vonnis vir 104 jaar in die tronk sit.
Landdros, mnr. André Geldenhuys, het Mazunze daarop gewys dat hy waarskynlik ‘n langer tronkstraf op die hals sou haal as hy sy teikens raak geskiet het.
Mazunze was ‘n power skut. Geldenhuys het voor vonnisoplegging na verskeie voorvalle verwys, waartydens Mazenzo op sy slagoffers tydens rooftogte geskiet het. Hy het meestal misgeskiet. ‘n Boer van Malelane, mnr André van Rooyen, het wel in die spervuur beland en is beseer.
Desondanks dié feit, is Mazenzo steeds ‘n gevaar vir die samelewing, het Geldenhuys uitgewys. Hy het tussen 2007 groot skade as ‘n rower en plaasaanvaller in die Barberton- en Malelane-area aangerig en is ná sy arres op 22 Februarie 2008 aan 23 klagte van gewapende roof skuldig bevind, wat bygedra het tot die vonnis wat Dinsdag teen hom toegestaan is.
