
Dit blyk of vermeende diewe se gunsteling-wegkruipplek nou ook ‘n badplek vir boemelaars geword het. Nelspruit Post het klagtes ontvang oor hope rommel en veral kledingstukke wat langs die rivier in Fig Tree-straat en Acaciasingel weggegooi word, reg langs die Lighthouse.
Volgens mnr. Kevern van Rensburg, ‘n inwoner van Mbombela en ook ‘n werknemer van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, is dié area beslis een waar mense op hul hoede moet wees. Dit geld veral vir drawwers en vroue wat dit as ‘n deurgangsroete gebruik. Volgens hom het hy al verskeie kere boemelaars aangespreek wat hulle gemors daar gooi en selfs daar bad. “Ek het al menigmaal vir hulle gesê om op te hou, maar ek kan nie alleen teen hulle optree nie. Dalk as die gemeenskap saamstaan sal ons iets bereik.”
Van Rensburg meen boemelaars kom selfs met trollies rommel daar aan, trek hul klere uit en bad. Hy sê dié spesifieke plek is ook ‘n algemene wegkruipplek vir boosdoeners.
“Ons het al ‘n paar ouens gejaag wat daarheen hardloop om weg te kruip. Dis ‘n donker area en uit die oog.” Hy voeg by dat daar vroeër vanjaar ‘n vrou met ‘n mes gesteek is.
Die munisipaliteit kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

