Armand beïndruk by Rooikatfees
Armand Hofmeyr, die groot aantrekkingskrag by die afgelope Saterdag se Rooikatfees by Rooikatpark, sê sy aanhangers kan na sy vierde album uitsien wat binnekort vrygestel sal word.
LYDENBURG – Armand Hofmeyr, die groot aantrekkingskrag by die afgelope Saterdag se Rooikatfees by Rooikatpark, sê sy aanhangers kan na sy vierde album uitsien wat binnekort vrygestel sal word.
“Ek het reeds met ‘n liedjielys vir my volgende CD begin.” Armand sê hy wil homself as kunstenaar vestig, en nie in die skaduwee van sy pa, Steve Hofmeyr leef nie.
“Ek wil my eie beeld skep en vra dat die publiek aan my die geleentheid gun om my as kunstenaar in eie reg te sien. Ek het baie hard gewerk om tot hier te kom. Ek het my eie identiteit en mense moet dit verstaan,” het hy bygevoeg.
Hofmeyr sê hy is tans besig om deur die land te toer en gaan ook in Mosambiek optree. “Hoe meer shows jy doen, hoe meer ondersteuners kry jy.
Omdat my fokus nie geld is nie, wil ek my ondersteunersbasis laat groei. Soms kry ek publisiteit vir die verkeerde dinge wat ek gedoen het en nie as gevolg van wie ek is nie, maar daar is nie so iets soos slegte publisiteit nie!”
Die jaarlikse Rooikatfees bied verskeie aktwiteite, vermaak en inkopiestalletjies aan die gemeenskap. Veral die kinders het die speelpark gate uit geniet.
