Hard newsNewsNews

Ekonomie word geknou deur toemaak van werkgewer

Ouditeur sê alle bedrywe in die Laeveld is onder druk, met die uitsondering van landbou en spesifiek makadamianeute en sitrusvrug verbouing.

MBOMBELA – Moenie enige mooipraatjies glo nie; besigheid in die Laeveld toon nie aanduidings dat dinge binnekort gaan optel nie.

Mnr. Henri Pieters, ‘n ouditeur by Stabilis, sê Mpumalanga se ekonomie was nog nooit ‘n leier in nasionale groei nie. Wêreldwyd en by uitstek nasionaal is die prentjie ook nie rooskleurig nie. Die goudprys het teen druktyd op ‘n lae R1 148 per fyn ons gestaan. Die platinumprys was R1 205. Die elektrolitiese mangaandioksied (EMD) mark is so swak dat Delta EMD hul onderneming in die stad teen die einde van die jaar sal staak.

Die maatskappy, deel van Brittanje se Valmont EMD, het in die aankondiging van hul beplande sluiting genoem dat die afname in die EMD-mark wêreldwyd ‘n groot oorweging was, en ‘n afname in Delta se verskaffingsooreenkomgs met Duracell was die laaste spyker in die kis.

Mnr. Henri Pieters.
Mnr. Henri Pieters.

Navorsing deur die Small Enterprise Development Agency (Seda) het in 2012 al gewys dat vervaardiging algeheel afneem as gevolg van verhoogde arbeids- en produksiekoste wat party produkte goed goedkoper maak om in te voer as om self te vervaardig. Eskom betaal selfs elektrisiteits-intensiewe bedrywe soos smelters om maar eerder dit wat hulle myn uit te voer net om die geproseseerde produk weer in te voer – eerder as om hul smelters teen hoe kostes te bedryf, verduidelik Pieters.

Die Laeveld is wel geen nywerheidsreus nie, maar die poste wat saam met Delta tot niet gaan in Mbombela staan op 156, volgens die jongste syfers beskikbaar van die maatskappy. Pieters sê dis baie vir een maatskappy in die klein provinsiale hoofstad.

“Dit kan maklik tussen R5 miljoen – R10 miljoen in maandeliks besteebare inkomste wees wat verlore sal gaan.”

Tog is alle bedrywe in die area volgens hom onder druk, met die uitsondering van landbou en spesifiek makadamianeute en sitrusvrug verbouing. “Die probleem is dat hier tans geen groot projekte is wat werk skep en groei stimuleer nie,” sê Pieters. Die laaste groot projekte wat ‘n positiewe impak op die kleinhandel gehad het, was die opgraderings by Sappi en die konstruksiewerk aan die N4 – beide kom egter nou tot ‘n einde. As ouditeur sien hy min plaaslike maatskappye wat nog bonusse betaal of verhogings in lyn met inflasie (5-6 persent) betaal. Van sy kliënte gee eerder laer of geen verhogings, in pleks van om hul werknemers af te dank.

“Werknemers behoort dankbaar hieroor te wees, want ander geleenthede in die Laeveld is tans baie beperk ,” sê hy.

Ingenieurs en vakmanne se geleenthede is ook beperk in Mbombela. Hulle werk al hoe meer noord in Afrika waar ontwikkelling plaasvind. Die Mpumalanga Hooggeregshof se konstruksie skep wel baie werk, maar die projek is amper voltooi. En hoewel verskeie ander massiewe regeringsbouprojekte in die pyplyn is, bly dit vir nou eers net dit: planne. Die werk wat deur byvoorbeeld die operasionele hof en nuwe privaathospital geskep word is volgens Pieters ook te min om die verlies van maatskappye soos Delta te vervang.

Maar die regering kan ‘n groot rol hier speel. Volgens Seda moet nuwe kapitaal-intensiewe industrieë geïdentifiseer word om werkloosheid te bekamp. Pieters dink ook dis spesifiek toerisme en landbou in hierdie streek. Hy sê die ontwikkeling van toerisme en parke is van kardinale belang. “Jy kan wondere verrig met vennootskappe tussen die staat en privaatsektor. Hier is honderde duisende hektaar grond wat ongebruik lê. Dis die regering se bate wat hulle beskikbaar moet stel.”

En moenie te veel kla as regeringsamptenare duur voertuie aanskaf nie: die teenwoordigheid van dié goed besoldigdes in ons midde dra tot ‘n groot mate die plaaslike ekonomie, volgens Pieters. Die koopkrag van verbruikers in nabygeleë Swaziland en Mosambiek doen ook wonders vir kleinhandelaars , alhoewel dit stadig begin afneem as gevolg van nuwe ontwikkelings in daardie streke.

Inwoners se basiese behoeftes van kos, brandstof en behuising dra daartoe by, maar kyk jy na toetsrugby of Innibos se bywoningsgetalle, kom ‘n mens agter die finansies is maar knap as dit kom by vermaak, merk Pieters op. Tot die banke is suinig met lenings. “Mense verarm geleidelik.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button