Michelle Curgenven se geliefdes vertel van hul verlies
Die Meyers gesels openlik oor Michelle Curgenven se dood wat familie, vriende en ons gemeenskap geruk het.
MBOMBELA – “Die dorp voel soos ons.” Dit is hoe die Meyers die inwoners se gevoelens beskryf nadat die moordsaak van mnr. Johan Heunis tot April uitgestel is.
“Ons is moedeloos, moeg en op soek na closure,” verduidelik me. Diana Loock, wie se suster, me. Michelle Curgenven (née Meyer), op 4 Julie 2013 deur Heunis doodgeskiet is. “En nou moet ons wag tot volgende jaar,” sug mnr. David Meyer terwyl hy ‘n ondersteunende hand op sy vrou, Diana, se arm sit. Heunis se verhoor het hierdie week afgeskop. Die staat het sy saak gesluit, maar die verdediging se argumente word verder in April 2015 aangehoor.
Michelle se familie en vriende het na afloop van Woensdag se hofverrigtinge in die galery bly sit. Die voorafgaande drie dae het sy tol geëis op haar geliefdes wat getuienis oor haar skietdood in die fynste besonderhede moes aanhoor. ‘n Operhartige gesprek het gevolg waar herinneringe oor die beeldskone, gawe vrou opgeroep is. Daar is gepraat van Heunis se gevoelens vir haar, haar weerstand daarteen en die uitdagings wat haar geliefdes sedert haar dood in die gesig staar. Die Meyers praat prontuit en draai nie doekies om nie.
Hulle is ‘n gemoedelike klomp wat met ‘n lag en ‘n traan terugdink aan die vrou wat vir almal ‘n bron van vreugde was. Michelle het in Mbombela grootgeword en het na skool as administratiewe beampte by die munisipaliteit begin werk. Sy het met mnr. Clive Curgenven getrou en saam met hom Mosambiek toe verhuis. Sy en hulle twee seuns, Chase (8) en Kadyn (7) is in 2009 geruk deur die skielike dood van haar man in ‘n fratsongeluk en moes terug Laeveld toe trek. Sy het weer by die munisipaliteit begin werk en het die pos van administratiewe assistent vir, onder andere, Heunis beklee.
Vriende en familie onthou dat sy reeds in 2011 vir die eerste keer opgemerk het dat dit vir haar lyk asof Heunis belnagstelling in haar toon. Volgens me. Sharon Joubert, haar tannie “en haar tweede ma”, wou sy op ‘n vriendelike, dog ferm manier dit duidelik maak dat sy nie daarin belangstel om ‘n romantiese verhouding met hom aan te knoop nie en het sy hom deurgaans as “Meneer Heunis” aangespreek. “Om hom op sy naam te noem, sal vir hom die verkeerde idee gee,” het sy herhaaldelik gesê.
Hy het haar nogtans met geskenke oorlaai. “Sy het gesê dat sy dit nie wou gehad het nie, maar ons het gemeen dat sy dit maar kon aanvaar,” vertel Joubert voordat sy noem dat sy soms spyt is oor hierdie raad. Michelle se klagtes oor Heunis se toenemende aandag het meer geword. Sy het aan haar susters, me. Charmaine Steyn en Diana, vertel dat hy geglo het dat God aan hom geopenbaar het dat hy met ‘n vrou sou trou wat twee seuns het, net soos sy.
“Meneer Heunis, daardie vrou is nie ek nie,” het sy hom herhaaldelik gemaan. “Hy het gereeld die Jesus-kaart gespeel,” vertel Diana. Haar familielede beaam dat hy haar met Christelike boodskappies probeer manipuleer het. “Maar as jy so met die Bybel onder die arm wil loop, moet jy darem van beter weet. Jy sal geoordeel word volgens jou dade.” Michelle se geliefdes sien daarna uit dat die reg sy gang gaan.
“Hy het die hele situasie gemanipuleer. Hy het haar vriendelike geaardheid gespeel,” merk me. Chané Pretorius, Michelle se niggie, op. Sy was van nature vriendelik en hartlik teenoor almal. “Tannie Sara se sussie se boetie se hond sal doodgaan, dan huil Michelle kliphard saam,” onthou Steyn. “Almal verlang so baie na haar mooi hart.”
Die Meyers stem nie saam met die inhoud van Heunis se pleitverduideliking nie. “Michelle sou hom nooit oorgenooi het om dinge uit te praat nie. Veral nie in werkstyd nie,” sê haar pa. “En sy sal nooit sonder haar handsak iewers heen gaan nie,” voeg haar susters by voordat hulle van Michelle se liefde vir mode en styl vertel. “Sy was eenvoudig die volmaakte vrou. Sy was beeldskoon, stylvol en liefdevol. Sy was empaties en te alle tye professioneel.”
Die familie is baie beïndruk met die staatsadvokaat, mnr. Johann Kotzé, wat die saak hanteer. “Hy is so goed vir ons. Hy verduidelik vir ons die reg sodat ons deurlopend verstaan wat aangaan. Ons was nie vir een oomblik oningelig nie,” vertel Diana. Hulle is wel teleurgesteld omdat die saak uitgestel is, sodat ‘n sielkundige verslag en meegaande getuienis rakende die beskuldigde bekom kan word.
Intussen probeer die Meyers om aan te gaan. “Die jong kinders in die familie sukkel om te verwerk wat met Michelle gebeur het,” vertel Steyn. “My seuntjie is veral in die aande bang – hy wil nie eers opstaan om badkamer toe te gaan nie.”
“Michelle se twee seuns woon tans in Maputo waar hulle ‘n internasionale skool bywoon. “Hulle het goed aangepas daar en Oupa en Ouma Curgenven is besig om hulle aan te neem,” sê haar ma. “Hulle word mooi groot, Michelle sou trots gewees het,” skryf me. Natasha Schoultz op die Facebook-blad Support for Michelle Meyer, wat verslag lewer oor die vordering in die saak.
Hartseer het vir die Meyer-familie ‘n bekende metgesel sedert Michelle se dood geword. Dit is hulle noue familiebande en liefde wat hulle by tye staande hou – Michelle was die lewendigste van die klomp, maar hulle hou haar energie aan die gang deur elke dag met geesdrif te lewe. “Haar mooi gesindheid het ons gemeenskap aangeraak – dit is hoekom hulle ons so dra. Almal was bitter lief vir haar.”
