Moordsaak teen Johan Heunis uitgestel vir sielkundige verslae
Die staat het die afgelope week sy saak teen Heunis gestel en gesluit. Die verdediging het nou uitstel versoek tot 15 April 2015 sodat getuienis rakende Heunis se sielkundige toestand bekom kan word.
MBOMBELA – Die moordsaak teen Mbombela se voormalige waarnemende verkeershoof is uitgestel tot 15 April 2015. Nadat die staat sy saak gesluit het, het die verdediging een getuie, mnr. Eddie Prolius, geroep voordat die uitstel versoek is.
Laevelder het deur die loop van die week berig dat Heunis aangekla word van die moord op me. Michelle Curgenven op 4 Julie 2014. Sy regsverteenwoordiger, Advokaat Piet Pistorius, het ‘n pleitverduideliking aan die rondgaande Hoër Hof in Mbombela voorgehou waarvolgens Curgenven se dood ‘n ongeluk was. Die pleitverduideliking voer aan dat Heunis sy dienspistool onder sy ken gehou het en wou selfdood pleed. Curgenven het die pistool onder sy ken probeer wegneem en is sodoende geskiet.
Kaptein Christian Mangena is ‘n ballistiese kenner wat ook in Oscar Pistorius se verhoor getuig het. Hy het getuienis tot die teendeel gelei. Volgens Mangena se ballistiese verslag wat hy aan die hof voorgehou het, dui die afwesigheid van genoegsame kruitneerslag op Curgenven se klere en liggaam daarop dat die pistool se loop twee tot drie millimeter van haar vel was toe die doodskoot afgevuur is.
Volgens die spoor wat die koeël gelaat het, het sy voor haar gekyk toe sy geskiet is. “Daar kan ‘n reguit lyk getrek word tussen die plek waar die koeël haar liggaam binnegedring het, die plek waar die koeël haar liggaam verlaat het en die plek waar die koeël die voertuig waarin sy gesit het se deur getref het. Haar linkerarm was plat teen haar lyf toe sy dood is – sy het dus nie Heunis se poging tot selfdood met hierdie hand probeer afweer nie. Sy kon ook nie haar regterhand gebruik nie – sy het voor haar gekyk, soos die reguit lyn wat die koeël deur haar liggaam gemaak het, bewys.”
Die staat het hierna sy saak gesluit en die verdediging het vir mnr. Eddie Prolius, Mbombela se verkeershoof wat reeds 18 maande geskors is, as getuie geroep. Sy polisieverklaring oor die voorval is deur staatsadvokaat mnr. Johann Kotzé aan hom voorgelees. Hiervolgens het Heunis hom geskakel en gesê: “Chief, ek het groot k*k aangejaag en ek is jammer.” Heunis wou nie uitbrei oor wat hy gedoen het of waar hy was nie, omdat hy nie wou gehad het dat Prolius of die owerhede daarheen moes kom nie, het Prolius se verklaring gelui.
Prolius het aangeneem dat die beskuldigde by Curgenven se huis was en het omstreeks 21:30 daar opgedaag. Heunis wou toé wel sy eie lewe neem en het telkens die pistool teen sy ken gedruk.
“Die Here verwag nie van Christene om hulle eie lewens te neem nie,” het Prolius hom gemaan.
Onderhandelaars van die polisie was ook op die toneel en daar is met Heunis onderhandel vir toegang tot die perseel. Nadat hy met die belofte van goeie regsverteenwoordiging gepaai is en die versekering dat die polisie hom nie sal oorweldig as hy hulle toegang tot die perseel gee nie, het Heunis die sleutels van die eiendom oorhandig.
Volgens Prolius se verklaring is ‘n bottel Coke aan Heunis aangebied en hy het ‘n sluk daarvan gevat, waarna hy glo omgeval het “soos ‘n bees wat geskiet is.” Volgens Heunis se regspan was daar ‘n slaapmiddel, Dormicum, in die koeldrank. ‘n Betroubare bron wat op die toneel was, het aan Laevelder bevestig dat geen verdowingsmiddel toegedien is nie.
Nadat Prolius die getuiebank verlaat het, het Pistorius versoek dat die saak uitgestel word aangesien getuienis gelei gaan word in verband met die beskuldigde se sielkundige toestand. Heunis se regspan kon nog nie bevestig wanneer die beskuldigde se geestestoestand bewys sal word relevant te gewees het nie – dit kan gelei word ten opsigte van sy geestestoestand ten tye van die misdryf en/of verhoor. Die persoon wat hieroor moet getuig, was nie beskikbaar nie.
Die saak sal op 15 April 2015 hervat, wanneer die antwoord op hierdie vraag vir die hof aangebied sal word.
