Sy passie om te sweef het ‘n kinkel
Die gedoente het toe teen 'n geweldige spoed teen die berg af beweeg. Die volgende oomblik haak die een vlerk aan 'n klip. Die man het neergeslaan en net daar bly lê.
SABIE – Iaan du Toit en sy vriend het onlangs ‘n ongelooflike ontdekking gemaak wat as niks anders as die toppunt van vindingrykheid kan beskryf word nie.
Du Toit en ‘n vriend het rondgery toe hulle iets teen ‘n berg hulle oog gevang het – net buite die dorp, op pad na Rietfontein. Sy eerste reaksie was dat ‘n mikrovliegtuig geval het. Hulle het van die pad af getrek en probeer uitpluis wat dit was, toe die ding skielik begin beweeg het. Dit het stadig van die grond af opgestyg en begin omdraai. Sy vriend het uitgeroep: “Dis ‘n hangtuig!”
So het hulle in ongeloof gestaan en staar na wat voor hulle afgespeel het.
Die gedoente het toe teen ‘n geweldige spoed teen die berg af beweeg. “Die volgende oomblik haak die een vlerk aan ‘n klip. Die man het neergeslaan en net daar bly lê,” vertel Du Toit. Hulle kon nie die toneel bereik nie en is toe maar vort.
Hulle het die volgende oggend op dieselfde plek stilgehou en die hangtuig daar sien lê. Die man was nêrens te sien nie.
Hulle het toe ‘n kamera by hulle gehad en die berg uitgeklim om die hangtuig van nader te bekyk. Daar ontdek hulle toe ‘n onbekende man se slaapplek onder ‘n bos, asook sy “werkswinkel” waar hy duidelik die hangtuig aanmekaar gesit het.
Dit het uit bamboes, draad, karton, plastiese pyp en plastieksakke bestaan. Dit was selfs met ‘n stert toegerus. Volgens Du Toit is die naaste bamboesbos by Sabie Star Chalets. Hulle reken dat die man dit heel moontlik daar geoes en tot by sy “werkswinkel” gedra het. Hy moes dit alles te voet hierheen gedra het. Die man se vermoedelike passie om te sweef moes vir hom baie haalbaar gelyk het. “Ek kan nie help om te dink dat sy beskermengel oortyd gewerk het toe die vlerk aan die klip haak nie. As hy daardie middag opgestyg het, sou hy hom half simpel geval het,” sê Du Toit.
Hulle het toe die saak van alle invalshoeke probeer ontleed en die man se ongelooflike inisiatief en waagmoed bewonder. Dit was duidelik dat hy beperkte kennis van ingenieurswese of die sterkte van materiaal het, maar met die konsep was niks fout nie. Daar is tans ‘n beloning wat wag vir dié onbekende man, met die ware Jakob in gedagte. As Du Toit die man kan opspoor, sal hy vir hom ‘n vlug in ‘n regte vliegtuig reël.
