Hard newsLocal newsNewsNews

Ekonomie groei steeds ondanks struikelblokke

"In die 1990's was daar ongeveer 66 000 boere in Suid-Afrika en in 2007 minder as 40 000 - dis 'n afname van sowat 40 persent"

WITRIVIER – Die bekende ekonoom, JP Landman, het Donderdag tydens die Subtrop- bemarkingsimposium verskeie persepsies wat tans oor die landboubedryf asook die ekonomie bestaan, verwerp. Hy het Suid-Afrikaners, maar veral ook die boere, geprys vir dit wat hulle in dié sektor verrig en verskeie aantygings deur statistiek teengestaan. “Dit is nonsens dat landbou in Suid-Afrika uitmekaarval,” het hy laat hoor en gesê dat mense wat dié tipe aantygings maak, beslis nie die syfers bestudeer nie.

Hy het wel uitgelig dat die hoeveelheid boere in Suid-Afrika dramaties afneem en na onlangse statistiek verwys. “In die 1990’s was daar ongeveer 66 000 boere in Suid-Afrika en in 2007 minder as 40 000 – dis ‘n afname van sowat 40 persent, maar afgesien hiervan het produksie in die landbousektor steeds toegeneem.” Volgens Landman was die produksiesyfer in 2004, 10 persent meer as in 1994 en in 2013, 32 persent meer as in 1994. “Ek haal my hoed af vir Suid-Afrikaanse boere wat sonder enige ondersteuning van die regering, produksie met ‘n derde sedert 1994 kon verhoog.”

Hy het verder verskeie ekonomiese punte aangeraak en ook na die politiek in die land verwys. “Suid-Afrika is vanaf 1993 tot 2003, 34 persent ryker en kon daarin slaag om ten spyte van twee voorvalle, waarvan een die onlangse wêreldwye resessie was, steeds groei te toon. Na die demokrasie het die bruto binnelandse produk (BBP) met meer as drie persent per jaar gestyg en alhoewel die groei die afgelope vyf jaar maar slegs 0,6 persent per jaar was, het dit steeds bly groei.

“Suid-Afrika is tans in ‘n stadige groeisiklus vasgevang en ek vermoed dat die volgende twee tot drie jaar nie veel verandering sal bring nie. Daar sal waarskynlik vir die volgende twee jaar nie ‘n groei van meer as drie persent per jaar wees nie.” Alhoewel Landman die stadige groei as positief beskou, meen hy egter dat dit nie genoeg is om werkloosheid hok te slaan nie. Hy het verduidelik dat Suid-Afrika ‘n voorbeeld is waar werksgeleenthede toeneem, maar werkloosheid ongelukkig ook. “Daar is tans geen wonderwerk in sig nie, maar so ook geen katastrofe (apocalypse) nie.” Ten opsigte van die politiek, het Landman die 2014 verkiesing beskryf as die jaar wat “groot politieke veranderinge” teweeggebring het en die toetrede van die Economic Freedom Fighters (EFF) as ‘n “fundamentele ontwikkeliing – ten goede bestemel”. Hy het die belangrikheid van ‘n opposisieparty beklemtoon en die impak van Julius Malema as “baie positief op die politiek in Suid-Afrika beskryf” wat tot gevolg het dat die EFF die ANC forseer om te degradeer.” Landman het Numsa as die “ware linkses” van Suid-Afrika beskryf en gesê dit is nie meer die posisie van die ANC nie. Hy het bygevoeg dat die party en die EFF nooit sal hande vat nie, maar mekaar sal “vermoor” en dit as ‘n “bittere stryd” beskryf. Landman se raad: “Ons moet versigtig meet en met ‘n fyner sif tussen partye sif.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button