MBOMBELA – ‘n Voormalig ondersoekbeampte van hazyview sal op 14 April 2015 saam met twee medebeskuldigdes in die Nelspruit Streekshof verskyn op aanklag van onwettige jagaktiwiteite. Die saak teen die drie is Maandag uitgestel.
Mnr. Tsepo Malope is op 25 Mei 2013 in die omgewing van die Phabeni hek van die Nasionale Krugerwildtuin gearresteer nadat hy gewond is tydens die beoogde uitvoer van onwettige jagaktiwiteite. Hy is in die hospitaal ondervra waar sy skietwonde behandel is en het tydens hierdie ondervraging vir mnre. Jabulane Ngomane en Patrick Mokoena by die beoogde misdaad geïmpliseer. Ngomane en Mokoena is onderskeidelik op 6 en 27 Junie gearresteer.
Malope se twee medebeskuldigdes is vantevore aangekla van roof nadat ‘n .303 jaggeweer van mnr. Bruce Night van Hazyview gesteel is. Hierdie jaggeweer is gekonfiskeer toe Malope aangekeer is.
Nadat die saak op 27 Oktober vir ‘n week uitgestel is omdat Mokoena vir sy advokaat instruksies wou gee, is die saak op 3 November wéér uitgestel tot 14 April 2015. Mokoena se borg is verleng, terwyl die ander twee beskuldigdes tot dan agter tralies bly.
