Hard newsLocal newsNewsNews

Chaos op paaie na talle ongelukke

Die bestuurder van die Mahindra het aan Laevelder gesê dat hy probeer het om bane te verwissel en in sy blindekol gekyk het, toe die kar skielik voor hom was en hy hom getref het. "Ek het probeer om die ongeluk te verhoed, maar dit was te laat," het hy geskok gesê.

MBOMBELA – ‘n Man is Vrydagmiddag tydens ‘n fratsongeluk deur sy eie kollega doodgery.

Dit het omstreeks 12:45 op die R40, net na die berugte Tyger Wheel & Tyre-kruising in Witrivier se rigting gebeur.

Paramedici moes hierdie naweek omtrent bontstaan om by al die ongelukke uit te kom. Hulle was nog besig op die toneel waar mnr. Desmond Hlope (27) dood is toe hulle berig ontvang het van ‘n tweede ongeluk daar naby.

Volgens, mnr. Sifiso Hlatshwayo en

mnr. Fanie Mthenjaane, wat in skok toegekyk het hoe hul kollega en vriend leweloos langs die pad lê, het die voertuig waarin Hlope gery het se enjinkap oopgevlieg en hom tot stilstand gedwing.

Mnr. Mfundo Hlatshwayo wat saam met Hlope by Autoway gewerk het, het agter hom gestop toe ‘n derde voertuig – ‘n grys Mahindra – in Hlatshwayo se wit Chevrolet Aveo ingeploeg het. Dit het die Aveo vorentoe gedwing en hy het Hlope, wat buite gestaan het en besig was om die enjinkap toe te maak, doodgery.

Hulle was na bewering onderweg om ‘n polisievoertuig wat hulle gediens het, terug te besorg waarna Hlatshwayo saam met Hlope in een voertuig sou terugkeer werk toe. Dié weergawe is deur paramedici op die toneel beaam. Mnr. Greg Wilcox, waarnemende takbestuurder van ER24, het bevestig dat Hlope uit die polisievoertuig geklim het om die enjinkap toe te maak toe hy deur Hlatshwayo, wat op daardie oomblik van agter af deur die Mahindra getref is, doodgery is. “Sover ons kan vasstel, is hy op slag dood,” het Wilcox gesê.

Volgens hom het Hlatshwayo slegs geringe beserings opgedoen en is na Rob Ferreira Hospitaal geneem.

Die bestuurder van die Mahindra het aan Laevelder gesê dat hy probeer het om bane te verwissel en in sy blindekol gekyk het, toe die kar skielik voor hom was en hy hom getref het. “Ek het probeer om die ongeluk te verhoed, maar dit was te laat,” het hy geskok gesê.

Tydens die tweede ongeluk wat kort hierna aangemeld is, het ‘n passasier ernstige beserings opgedoen toe die wit Volkswagen Golf waarin hy en nog ‘n persoon gery het, deur ‘n vragmotor

getref is toe hulle glo ‘n verkeerslig verontagsaam het.

Volgens die provinsiale polisiewoord-voerder, sers. Gerald Sidebe het die insittendes van die Golf by ‘n ander voertuig probeer inbreek toe die eienaar (wat by McDonalds werksaam was), uitgestorm het nadat hy gesien het dat hulle aan sy voertuig peuter. Hulle is op heterdaad betrap en het weggejaag. Die verkeerslig by Crossing was egter rooi. Volgens Sidebe het die bestuurder die rooi lig verontagsaam en is hy deur ‘n vragmotor getref. Hy het slegs ‘n ligte skrapie opgedoen en is op die toneel gearresteer.

Volgens Wilcox het die passasier, wat uit die voertuig gesny moes word, ernstige interne sowel as hoofbeserings opgedoen en is hy na Rob Ferreira Hospitaal gehaas.

Afgesien van poging tot motordiefstal, is ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder bygelas.

In ‘n derde voorval Saterdag omstreeks 22:30 op die R37 na Sabie, is ‘n 17 maand oue dogtertjie tussen die paneelbord en voorste passasiersitplek van die minibus vasgedruk nadat die bestuurder probeer het om ‘n swaarvoertuig, wat vermoedelik regs wou draai, verby te steek.

Die minibus het egter die trok getref. Volgens mnr. André Denysschen van Netcare 911 was die dogtertjie ongedeerd, maar is sy nogtans saam met haar ma deur ER24 na Rob Ferreira vervoer.

Die ma se beserings is as ernstig geklassifiseer en sy het snywonde aan haar gesig opgedoen.

Volgens Denysschen het verskeie ongelukke Sondag plaasgevind, maar niemand is dood nie. In een voorval is drie pasiënte na Mediclinic Nelspruit gebring en drie na Rob Ferreira nadat twee voertuie in ‘n botsing op die hoek van Geelhoutlaan en die R40 betrokke was. Daar was ‘n halfuur voër nog ‘n ander ongeluk waarin ‘n weermagvoertuig betrokke was, op presies dieselfde plek. Hy meen spoed was ‘n bepalende faktor in meeste van die voorvalle.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button