Hard newsNewsNewsUpdate

Getuienis in Steynberg-skêrsaak verstom

Sielkundige getuienis is Vrydag aangebied in die saak teen mnr. Francois Steynberg, wat van poging tot moord en aanranding aangekla word nadat hy glo 'n sewejarige se keel met 'n skêr probeer oopkloof het.

MBOMBELA – Mnr. Francois Steynberg reageer vreemd op alkohol en dagga. ‘n Sielkundige verslag blameer floutes vir sy beweerde poging tot moord en aanranding wat glo nie sy skuld is nie.

Die beskuldigde is op 6 Desember 2008 by sy broer se huis waar die voorval plaasgevind het, in hegtenis geneem. ‘n Opsomming van vorige getuienis het bevestig dat Steynberg en sy broer whiskey gedrink het terwyl sy broerskind en haar maatjie, die slagoffer, ook daar was. Steynberg sê dat hy om 20:00 na sy kamer toe is en die volgende oggend eers in die polisieselle sy bewussyn herwin het.

Volgens vroeëre getuienis wat gelei is, het Steynberg na die kind se bed toe gestap, haar opgetel en na sy kamer toe geneem, haar aangerand en haar gewaarsku om nie alarm te maak nie. Toe sy om hulp uitroep het hy haar keel glo met ‘n skêr probeer oopkloof – só diep dat haar tragea sigbaar was. ‘n Noodooperasie het die dogter – nou 11 jaar oud – se lewe gered.

Die 35-jarige Steynberg is aanvanklik van verkragting, aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord aangekla. Die klag van verkragting is in November 2012 laat vaar. Steynberg het tydens opspraakwekkende getuienis in die kruisondervraging in Januarie vanjaar vertel dat hy voor die voorval dagga gerook en alkohol gedrink het.

Steynberg se geskiedenis van alkohol- en dwelmmisbruik is tydens Woensdag se hofverrigtinge beklemtoon toe die kliniese sielkundige, me. Susanna Myburgh, haar verslag oor die beskuldigde aan die hof voorgehou het. Myburgh het ‘n neuro-sielkundige benadering (‘n evaluering van die beskuldigde se sielkundige toestand en breinfunksionering) gevolg toe sy die beskuldigde geëvalueer het en het sy persoonlike omstandighede aan die hof voorgehou. Hy was op die ouderdom van 13 in ‘n motorongeluk waarna hy vir drie dae in ‘n koma was. Hierna het hy begin drink en toenemend dagga gerook totdat dit ‘n daaglikse aktiwiteit geword het.

Volgens Myburgh het die beskuldigde gedurende sy hoërskoolloopbaan sy eerste floute beleef.

Hy sou drink en dagga rook en dan skielik sy bewussyn verloor. Wanneer hy wakker word, was dit vir hom duidelik dat iets vreemds gebeur het. ‘n Paar voorvalle waar alkohol en dwelms betrokke was, is as voorbeelde voorgehou: Hy was eenmaal besig om danig te raak met ‘n meisie toe sy broer hom kom roep het sodat hulle huis toe kon ry.

Hy het die volgende oggend in die hospitaal wakker geword met steke aan sy arm en pols.

By ‘n ander geleentheid het hy glo alleen tuis gedrink en dagga gerook. Sy familielede kon hom nie in die hande kry nie en het op hom afgekom waar hy bewusteloos in sy woonstel gelê het. Hy het sy woonstel eiehandig verwoes. Talle artikels was gebreek.

Steynberg kan glo niks van hierdie voorvalle onthou nie, net soos wat hy nie die gebeure van 6 Desember kan onthou nie. Hy sê selfs: “Ek kan nie dink dat ek dit sou doen nie. As daar bewys word dat ek het, dan is ek seker skuldig. Dit sal vir my baie moeilik wees om te verwerk. Dit moet nog moeiliker wees vir die slagoffer, as dit waar is.”

Myburgh het die beskuldigde se mediese verslae gefynkam en kon glo nie veel wys word nie. Sy kon wel bevestig dat ‘n antikonvulsant vir hom voorgeskryf is toe hy 13 was.

Dit kan vir verskeie kwale gebruik word, wat epilepsie insluit.

‘n Simulasie-eksperiment is in September vanjaar op Steynberg uitgevoer wat behels het dat hy in ‘n psigiatriese hospitaal opgeneem is.

Hy is drank gegee omdat Myburgh sy gedrag onder die invloed wou waarneem. Haar notas hieroor kon egter nie volledig aan die hof voorgelê word nie.

Sy het aangedui dat sy dit sal moet gaan soek, waarop sy versoek is om dit Donderdag voor te lê wanneer die verhoor sou hervat.

Lees vorige artikel hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button