Hard newsNewsNewsUpdate

Raad op Gesondheidsberoepe veroordeel sielkundige getuienis in skêr-saak

'n Eksperiment is op die beskuldigde uitgevoer wat tot 'n strawwe kruisverhoor van die beskuldigde, Francois Steynberg, se sielkundige gelei het. Sy het hom dronk gemaak tydens hierdie eksperiment.

 

MBOMBELA – Die Raad op Gesondheidsberoepe het ‘n kliniese sielkundige wat ‘n verdagte dronk gemaak het om te kyk hoe hy onder die invloed van alkohol optree, skerp veroordeel en aanbeveel dat ‘n klag teen haar gelê word.

Mnr. Francois Steynberg word daarvan beskuldig dat hy in 2009 ‘n dogtertjie wat toe maar sewe jaar oud was, met ‘n skêr probeer keelaf sny het nadat hy haar aangerand het. 

Sy verhoor het verlede week in die streekhof voortgegaan en me. Susanna Myburgh, die sielkundige, het onder eed bevestig dat sy ‘n sogenaamde simulasie-eksperiment op hom uitgevoer het. 

Daar is vroeër getuig dat Steynberg die aand van die beweerde voorval whiskey gedrink het. 

Myburg is vervolgens genader om hom te evalueer en sy wou die omstandighede waaronder die beweerde misdaad plaasgevind het, namaak terwyl Steynberg se breinfunksies gemonitor word. Hy is op 15 September vanjaar in M-Care Macadamia se psigiatriese saal opgeneem. Hy het hierdie vertrek met drie ander pasiënte gedeel. Hy is aan ‘n masjien wat breinaktiwiteit monitor, gekoppel. Myburgh het met ‘n maatbekertjie – “soos een waarmee ‘n mens koek bak” – vir hom sy eerste sopie aangebied. Sy het getuig dat, soos op die dag waarop die beweerde misdaad gepleeg is, sy toegesien het dat Steynberg voor die tyd nie baie geëet het nie. Myburgh het vir hom deurlopend whiskey en Coke gegee en opgemerk dat hy onsamehangend begin praat het. Hy wou buite gaan rook en sy het hom sy gang laat gaan. Myburgh het getuig dat Steynberg aggresief begin praat het, mense as f*kkers aangespreek het en herhaaldelik gesê het dat insekte meer bestaansreg as mense het. 

Sy het vir hom nog whiskey gegee en nadat hy sowat 625ml gedrink het, het hy vir 10 minute sy bewussyn verloor. “Hy het wakker geword, goed geruk en gepluk en die een kant van die bed waarvan die relings intussen opgeslaan was, gebreek. Hy het ook die gordynreling afgebreek en die bedkassie omgegooi,” het sy getuig. 

Myburgh het aanvanklik beweer dat dit tydens ‘n epileptiese aanval gebeur het, maar later erken dat sy nie die kwalifikasies het om iemand as ‘n epilepsielyer te bestempel nie.

Steynberg is aan ‘n ander bed vasgemaak en na die hospital se gimnasium geneem, waar Myburgh ‘n dubbeldosis-medikasie aan hom laat toedien het om hom rustig te maak. ‘n Oproep aan die M-Care Macadamia-sorgeenheid in West Acres het bevestig dat hy die volgende dag om 11:15 ontslaan is. Hy was glo nog baie deur die slaap.

Senior staatsadvokaat me. Isabet Erwee het Myburgh tydens kruisondervraging eerstens oor die akkuraatheid van haar simulasie gevra. Sy het erken dat die omstandighede van die beweerde voorval nie werklik gesimuleer is nie, siende dat die beskuldigde nie ook onder die invloed van dagga was toe die eksperiment uitgevoer is nie. Erwee het hierna gevra watter geneesheer hierdie eksperiment gemonitor of gemagtig het. Daar was nie een teenwoordig nie.

Laevelder het die voorval onder die Raad op Gesondheidsberoepe se aandag gebring. Me. Adelle Taljaard, bestuurder van die Professionele Sielkundige Raad, het voorvalle soos hierdie ten sterkste veroordeel en aanbeveel dat ‘n klag teen Myburgh gelê word sodat die saak ondersoek kan word. 

“‘n Ondersoek sal geloods word en die sielkundige sal ‘n kans kry om haar kant van die saak in ‘n verklaring te stel. Sou so ‘n persoon aan ‘n oortreding van ons etiese kode skuldig bevind word, word hulle van die rol van praktiserende kliniese sielkundiges geskrap.” ‘n Plaaslike sielkundige is ook vir kommentaar genader en het bevestig dat Myburgh se optrede eties onregverdigbaar is. Hy sê dat eksperimente nie sommer op pasiënte uitgevoer word nie – dit word selde deur psigiaters gedoen en sielkundiges word eties verbied om dit sonder hulle leiding te doen. ‘n Dokter verbonde aan Rob Ferreira Hospitaal het hierdie stelling bevestig.

Erwee se kruis-ondervraging het verder ontbloot dat Myburgh hierdie eksperiment uitgevoer het terwyl sy geweet het dat die beskuldigde ‘n geskiedenis van gewelddadige optrede het. Sy het getuig van meer as een geleentheid waar hy sou dronk word en kwansuis ná ‘n floute ontwaak om agter te kom dat hy goed om hom gebreek het.

“Myburgh, het jy iets hieruit geleer?” het Erwee in haar kruisondervraging gevra. “Ja, ek sal my metodiek verbeter wanneer ek weer so ‘n eksperiment moet doen,” het sy geantwoord.

Die verhoor is tot 13 Mei volgende jaar uitgestel.

Lees die vorige artikel hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button