Musiek bring genesing vir die siel
Musiekterapie handel nie of 'n persoon 'n sekere instrument kan speel nie. Dit gaan eerder oor die produk en wat jy met die musiek kan bereik."
MBOMBELA – Musiek is ‘n universele taal en is iets waarmee elke mens se siel kan identifiseer. Voeg so bietjie sielkunde daarby en uit hierdie mengsel verskyn die wonder van musiekterapie.
Petra Jerling is die Laeveld se enigste musiekterapeut en het aan Laevelder vertel wat haar daaglikse werk tussen note en ritmes behels.
“Dit is psigodinamiese terapie met behulp van musiek. Dit is sielkunde gemeng met musiek,” verduidelik sy.
Jerling het in Maart haar praktyk in Mbombela begin nadat sy verlede jaar ‘n M.Mus in musiekterapie op die ouderdom van 50 by die Universiteit van Pretoria voltooi het.
Sodoende het sy haar droom verwesenlik om ‘n voltydse musiekterapeut te word, aangesien sy voorheen ‘n onderwyser was.
Musiekterapie is ‘n relatiewe jong beroep in Suid-Afrika aangesien dit nog net 15 jaar gepraktiseer word. “Ek moes twee jaar voltyds vir my meestersgraad studeer.
Ek moes 1 000 uur prakties werk, opnames daarvan maak en dan daarop geëvalueer word. Dit was dae en nagte van aanhoudend studeer, maar ek is glad nie
spyt nie.”
Sy het musiek na skool gaan studeer en met haar B.Mus. graad in die tagtigerjare gaan skoolhou. Dit is juis tydens haar tyd as onderwyser waar sy besef het dat haar kleiner klasse die geleentheid vir meer interaksie tussen leerlinge en haarself skep.
“Om weer te studeer was een van die moeilikste besluite nog. Ek moes my werk by Uplands los en daardie vaste inkomste opgee.”
Hierdie studies het vir Jerling geleer dat ouderdom maar eintlik net ‘n nommer is. “Ek was ouer as my dosente en ek is die enigste student wat die graad in twee jaar klaargemaak het. Die ander het baie langer gevat,” noem sy. Dié sprankelende terapeut kry haar lewensvreugde uit musiek en ‘n mens kom dit gou agter deur net na haar onkonvensionele spreekkamer te kyk. Dit lyk eerders soos ‘n musiekfabriek met verskillende instrumente en ‘n trommel vol musikale speelgoed wat op die vloer staan.
In hierdie trommel is daar elke denkbare instrument soos houtpaddas waar ‘n stokkkie gebruik word om klanke te maak, simbale wat geslaan kan word en tamboeryne wat tot hartelus op die maat van musiek geskud kan word. Die moontlikhede is eindeloos en Jerling koop alles uit haar eie sak. “Ek koop die instrumente op enige plek – as ek iets interessant sien wat ‘n klank maak, koop ek dit,” lag sy. Musiekterapie kan met ‘n verskeidenheid probleme help en word as een van die beste maniere beskou om trauma te beheer en kognitiewe stimulasie te verbeter.
“Die tipe terapie hang van die probleem en die persoon se ouderdom af. Met kinders sal ons byvoorbeeld musiek gebruik om hulle te leer om hul beurt af te wag deur ‘n spesifieke ritme te volg.
“Musiek doen ook wondere vir verhou-dingsterapie. Paartjies sit partykeer rug aan rug en gebruik ‘n djembe-drom om hul frustrasies en probleme weg te slaan,” sê sy. Partykeer is daar ‘n sekere liedjie wat ‘n goeie herrinering ontlok en dit help daardie persoon om dan oor sy situasie te praat.”
Volgens Jerling is musiekterapie ook besonder doeltreffend wanneer dit in groepsverband plaasvind omdat dit spanbou implementeer. “Musiekterapie handel nie of ‘n persoon ‘n sekere instrument kan speel nie. Dit gaan eerder oor die produk en wat jy met die musiek kan bereik.”
Musiek is ook ‘n wonderlike aanknopings-punt, veral wanneer beluistering toegepas word. Dit is wanneer pasiënte die musiek ineem en dit as vertrekpunt neem om sintuiglik daarna te luister en dan hulle spesifieke gevoelens neer te skryf of te teken. Jerling werk ook met kinders wat breinbeserings opgedoen het en fisies nie kan praat nie, maar met musiek kan hulle kommunikeer en hul gevoelens op ‘n instrument uitleef.
Volgens haar word hierdie unieke terapeutiese vorm ook deur mediesefondse gedek en is meer bekostigbaar as wat baie sielkundiges vir ‘n sessie vra.
“Die lewe is vol ritme en melodieë. Mense is musikale wesens en ons praat met ons lywe en beweging. Musiek is nie net klank nie maar ook fisies.”
Navrae: Petra Jerling by 084-548-4202 of musiekterapie@gmail.com
