Hard newsNewsNews

Gert de Beer se moordenaar gevonnis: meer oor die 30 jaar vonnis vir dié plaasmoord

Die vonnis in meer detail, soos dit verskyn het in gister se koerant. Makhubela is vir 'n effektiewe tydperk van 30 jaar tronk toe gestuur na die plaasaanval op die de Beers verlede jaar.

MBOMBELA – Die man wat mnr. Gert de Beer op 10 Oktober verlede jaar op sy plaas buite Witrivier vermoor het, is Vrydag in die rondgaande Hooggeregfshof tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Welcome Zenezele Bulunga (22) is skuldig bevind aan moord waarvoor hy tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is. Skuld op ‘n klag van roof met verswarende omstandighede het 12 jaar tot hierdie vonnis gevoeg. Hy is verder tot onderskeidelik vier en twee jaar tronkstraf gevonnis vir die gesteelde vuurwapen en ammunisie wat in sy besit gevind is. Regter Peter Mabuse het beveel dat van hierdie vonnisse gesamentlik uitgedien sal word, wat meebring dat Bulunga 30 jaar effektiewelik sal uitdien.

Hierdie vuurwapen is een van twee vuurwapens wat tydens die moord en rooftog verlede jaar saam met ‘n LG-televisiestel, ‘n horlosie en selfone op die plaas Spioenkop gebuit is.

Laevelder het vroeër berig dat mnr. Gerhard de Beer (82) en sy vrou Lina, tussen 18:00 en 19:00 op 10 Oktober 2013 deur vier mans oorval is. ‘n Huisvriend, mnr. Luis Correia, het hulle woning die volgende dag om 16:00 besoek nadat De Beer se kinders bekommerd geraak het omdat hulle niks van hul ouers verneem het nie. Correia het gaan ondersoek instel en op De Beer afgekom waar hy op die bed gelê het. Hy was reeds dood. me. De Beer het saam met die egpaar se hond in ‘n ander kamer gesit en Correia het vertel dat sy baie deurmekaar was toe hy op haar afkom.

Twee verdagtes, Bulunga en mnr. Nhlanhla Shabango, is in dieselfde maand aangekeer en een van die vuurwapens wat tydens die voorval gesteel is, is in Bulunga se besit gevind. Hy het ‘n bekentenis afgelê waarin hy verklaar het dat Shabango nie by die voorval betrokke was nie. Bulunga is daarna alleen vervolg.

Die vonnisprosedure is voorafgegaan deur staatspatoloog dr. Gantcho Prodanov Gantchev se getuienis wat verduidelik het dat De Beer meer as twintig houe met ‘n stomp voorwerp toegedien is. Dit het veroorsaak dat sy liggaam in ‘n toestand van hipovolemiese skok ingegaan het. Dit is ‘n skoktoestand waarin die liggaam verkeer wanneer só baie bloed en liggaamvloeistowwe verloor word dat die liggaam nie genoeg bloed kan bly vervaardig om met die verlies tred te hou nie. Dit veroorsaak dat organe ophou werk en die slagoffer sterf.

Correia het ook getuig dat me. De Beer drie maande na haar man aan ‘n hartaanval oorlede is. “Sy het van verdriet gesterf na haar man se dood. Hierdie gewelddadige voorval was opsigself vir haar traumaties en haar man se dood het haar nog meer agteruit laat gaan,” het hy getuig.

Mnr. Jan de Beer, ‘n broerskind, het dit bevestig: “Die moord op my oom het weens die trauma indirek die dood van my tannie veroorsaak, daar was niks fout met haar hart nie. Daar is duisende voorbeelde van wanneer een persoon op ‘n onnatuurlike manier tot sterwe kom, die ander een kort daarna aan natuurlike oorsake sterf. My oom en tannie is ‘n voorbeeld hiervan.”

Hy het aangedui dat die 30 jaar vonnis ‘n goeie vonnis is, maar dat ‘n ondersoek na aanspreeklikheid in die geval van sterftes soos me. De Beer s’n geloods behoort te word. “As die moordenaar vir haar dood ook aanspreeklik gehou kon word, dan was hierdie vonnis dalk 60 jaar of lewenslank. Ons sou ook natuurlik bly gewees het as die doodstraf in werking was en is voorstanders daarvan dat dit teruggebring moet word.”

De Beer het namens die familie sy dank betuig teenoor Correia, die polisielede wat betrokke was by die ondersoek, die beamptes van die hof wat by die proses betrokke was en elke lid van die gemeenskap wat hulle bygestaan het sedert hierdie voorval hul getref het. “Laastens dankie aan ons Skepper wat ons deur hierdie tyd gedra het. Die vonnis kan oom Gert nie terugbring nie. Hy was vir ons almal ‘n voorbeeld en my gebede gaan uit na my familie en sy kinders.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button