
MBOMBELA – ‘n Tienerseun het gister sy ouers se voertuig gevat en by ‘n onderwyseres om hulp gaan aanklop nadat sy pa hom en sy ma aangeval het. Die ma is so erg aangerand dat sy in die hospitaal beland het, te midde van ‘n veldtog teen geweld, 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders wat Dinsdag afgeskop het.
Volgens ‘n ingeligte bron wat op die toneel was, het die aanranding glo reeds gisteraand begin. Daar is bloed in die gesin se voertuig gevind en dit is waar alles vermoedelik begin het. Die seun, glo 17, het vanoggend sy ouers se Toyota Fortuner gevat en na ‘n onderwyseres se huis gejaag. Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit is na die toneel ontbied.
Mnr. Jacques Ainslie van Hi-Tech se mediese vleuel, het sekuriteitsbeamptes na die toneel vergesel. Die man het die deur oopgemaak, maar aan hulle gesê dat sy vrou slaap en niemand wou sien nie. Hy het hulle toegang tot die huis geweier en die polisie se blitspatrollie is gevra om in te gryp.
Kapt. Pieter Smit, bevelvoerder van die eenheid, is na die huis in Steiltes en is eers toe deur die man ingelaat. Die vrou het verskeie kneusplekke in haar gesig, arms, laerug en bene en dit wil voorkom of sy selfs gesleep is. Ainslie het gesê dit het nie gelyk of sy enige frakture opgedoen het nie.
Sy is na Mediclinic Nelspruit gebring sodat sy vir inwendige beserings getoets kan word. Die seun het geringe beserings opgedoen. Die pa is na die polisiestasie geneem.
