Familie en vriende bewonder werke van plaaslike kunstenaars
HCN Art Studio was 'n fees van kleur toe leerlinge op 14 November hul werke as deel van 'n jaareindkunsuitstalling vertoon het.
Vriende en familie is uitgenooi om te kyk wat die volwasse en hoërskoolkunstenaars hierdie jaar tydens hul klasse aangevang het, en was aangenaam verras deur die kwaliteit van die pragtige skilderye. Gaste het heerlik met die kunstenaars oor hul werke gesels terwyl hulle smaaklike happies geniet het.
HCN Art Studio bied kunsklasse vir volwassenes, hoër- en laerskoolkinders. Leerlinge kan hier met verskillende mediums soos akriel-, olie- en waterverf, asook houtskool eksperimenteer. Eienaar Hilke Nel vertel dat sy die kinders tekentegnieke en van kunselemente leer en oorspronklike temas volg. Hulle leer ook oor verskillende kunstenaars en boots hul style na om sodoende een wat hulle pas, te ontdek. Leerlinge neem ook jaarliks met groot sukses aan die eisteddfodd deel. Nel vertel dat haar klasse hulle die kans gee om hul kunstalente te ontgin en te slyp.
Sy was tydens die kunsuitstalling veral trots op die werke van die hoërskoolleerlinge, wat van uitstaande gehalte was en geensins van die skilderye van die volwassenes onderskei kon word nie.




