Hard newsNewsNews

Getuienis sê kind is ná haar dood verkrag

Skokkende mediese getuienis is verlede week onthul in die Rondgaande Hoë Hof.

MBOMBELA – “Die beskuldigde kon die slagoffer nie verkrag het nie omdat sy ten tye van penetrasie reeds dood was.” Die Rondgaande Hooggeregshof het Woensdag mediese getuienis aangehoor in die moordverhoor van mnr. Edgar Charles Mabunda (31). Hy word aangekla van die ontvoering, verkragting en moord op sy eksmeisie se agtjarige dogter.
Edgar is op 8 Augustus 2013 gearresteer nadat die dogtertjie se lyk op 29 Julie in New Forest, net wes van Thulamahashe naby die Sandrivier gevind is. Die polisie het haar liggaam daar gaan soek nadat Edgar vir sy eksmeisie ‘n SMS gestuur het om haar in te lig dat hy die kind ontvoer en vermoor het. Haar lyk is in die bos gevind met net ‘n T-hemp en kouse aan. Die kouse, waarmee sy verwurg is, was steeds om haar nek vasgebind.
Dr. Donald Vella Mabunda van die Tintswalo Mediesgeregtelike Laboratorium het gister tydens sy getuienis in die hof hierdie doodsoorsaak bevestig. Hy het verder getuig dat dit tydens die lykskouing aan die lig gekom het dat die kind ná haar dood verkrag is. Hierdie bevinding is tydens kruisondervraging van die getuie in die beskuldigde se guns aangewend deurdat die klag van verkragting teen hom onwaarskynlik lyk, omdat die slagoffer reeds dood was toe sy gepenetreer is. Alhoewel die beskuldigde se beweerde aksies wel op nekrofilie (seks met ‘n lyk) en lykskending kan neerkom, is hierdie uitsprake nie bevoeg op ‘n klag van verkragting nie.
Ná sy arres het die beskuldigde op 9 Augustus ‘n bekentenis afgelê, waarna hy die volgende dag uitwysings aan die polisie gedoen het.
Alhoewel die inhoud van hierdie getuienis nie ontken word nie, is die geldigheid daarvan Woensdag deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger, mnr. Nico du Plessis, bevraagteken.
‘n Binneverhoor is gehou en dit is voor die hof geplaas dat Edgar deur lede van die SAPD met tekkies geslaan is en dat hulle hom betas het voordat hulle hom aangesê het om hierdie bekentenis af te lê. Hy beweer ook dat daar vir hom voorgeskryf is hoe hy die uitwysing moes doen. Hy was glo bang dat hy weer aangerand sou word en het hierdie opdragte gehoorsaam.
Teen druktyd het die hof steeds die geldigheid van die bekentenis en uitwysing as getuienis oorweeg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button