Hard newsLocal newsNewsNews

Gesin se tweede seun in ongeluk

"Jesus en ek is heeltyd by jou" is een van die boodskappe waarmee Adjudant-Offisier Willie Broodryk sy seun op Facebook krag toebid ná Sondag se ongeluk.

MIDDELBURG – Twee en ‘n half jaar nadat hy ‘n seun in ‘n motorongeluk aan die dood afgestaan het, is die ander seun van AO Willie Broodryk, speurhoof op Skukuza, in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy in ‘n motorfietsongeluk was.
Pieter Broodryk (14), ‘n leerling aan Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier, is Sondagmiddag deur ‘n dubbelkajuitbakkie getref terwyl hy motorfiets gery het.
Die Broodryk-gesin was die naweek op ‘n plaas in die Roossenekal-omgewing. Pieter het gaan motorfiets ry toe ‘n bakkie na bewering op die grondpad voor hom ingery en direk van voor getref het.
Pieter is na die Life Midmed Hospitaal in Middelburg gehaas waar hy tans in die intensiewesorgeenheid is.
Alhoewel hy sy valhelm aangehad het, het Pieter die bakkie só getref dat hy ‘n aantal bene in sy gesig gebreek het. Sy een bobeen is vergruis en die ander gebreek. Volgens Kaptein Oubaas Coetzer, woordvoerder vir die Skukuza SAPD, is sy longe ook beskadig en kon hy teen druktyd nog nie geopereer word nie weens swelling van sy gesig. Volgens Coetzer sal Pieter waarskynlik penne in albei bene moet kry.
Boodskappe van ondersteuning het op Broodryk sr. se Facebook-blad ingestroom en gemeenskapslede het gesê dat hulle saam met die gesin vir Pieter bid.
Hulle moes in Junie 2012 hul ouer seun, Jean Pierre (JP) aan die dood afstaan toe hy naby die Diamond Hill-tolplaza in die Brokhorstspruit-omgewing in ‘n Nissan Sentra was wat met ‘n Toyota Quantum-minibus gebots het.
Broodryk, wat baie gelief is onder gemeenskapslede in Skukuza en sy kollegas in die SAPD, is van alle kante van ondersteuning verseker.
Dit is veral met hierdie agtergrond dat talle in Mpumalanga in hierdie tyd aan Willie en sy gesin dink.”
Pieter is ‘n sterk mens en sal veg,” het me. Anna Broodryk Uys gesê. Broodryk sr., wat teen druktyd nie vir kommentaar beskikbaar was nie, het sy onwrikbare geloof in ‘n boodskap aan sy seun op sy Facebook-blad geplaas: “Jesus en ek is heeltyd by jou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button