Hard newsLocal newsNewsNews

Muur val om, mis kinders met minute

'n Muur wat twee erwe in Koraallaan van mekaar skei het Sondagmiddag omgeval - minute nadat twee kinders wat gereeld daar naby speel, daar weg is.

‘n Muur het Sondagmiddag onder die druk van grondmassas wat deur reën deurdrenk is, meegegee. Volgens inwoners van Koraalboomlaan 13 is dit te wyte aan ‘n konstruksiemaatskappy wat op die erf langsaan werksaam is, se versuim om keermure aan te bring voordat hulle met hul werk begin het.
“My kinders speel gereeld agter in ons tuin. Dis net genade dat hulle nie daar was toe die muur omgeval het nie, want hulle kon baie seer gekry het.” Só druk mnr. Norman Meyer, sy misnoeë met die voorval uit. Hy en sy gesin woon hier in een van ses dubbelverdieping-wooneenhede.
Die NHBRC (Nasionale Huisbouers- registrasieraad) en die Wet op Boustandaarde van 1977 bepaal wanneer ‘n keermuur opgerig moet word voordat bouwerk op ‘n perseel begin. Keermure het ten doel om die sywaartse verplasing van materiale te voorkom wanneer daar op ‘n erf gebou word. Waar daar nie so ‘n muur aangebring word voordat bouwerk begin nie, kan swaar grondmassas en reënwater saamwerk om die muur tussen twee erwe te laat omval. Volgens die inwoners is dit presies wat hier gebeur het.
Die mure wat die twee aanliggende erwe van mekaar skei, het ongeveer twee maande gelede begin kraak. Lede van die kompleks se beheerraad het die munisipaliteit genader en dié het glo gereageer deur slote aan die binnekant van die erf te grawe waar konstruksie sou plaasvind, wat moes keer dat die muur omval. Dit het egter net ‘n paar weke se reën gekos om ‘n gedeelte van die muur te laat omval en inwoners is bekommerd dat nog dele binnekort gaan ineenstort.
Nelspruit Post kon teen druktyd nog nie kommentaar van die betrokke partye bekom nie, en ondersoek wie verantwoordelik was om keermure op te rig.

Konstruksiewerkers op die toneel te Koraallaan 13.
Konstruksiewerkers op die toneel te Koraallaan 13.
Gedeeltes van die muur het meegegee.
Gedeeltes van die muur het meegegee.
Die konstruksieterreinn is sonder keermure.
Die konstruksieterrein is sonder keermure.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button