
MBOMBELA – Die moordverhoor van mnr. Edgar Charles Mabunda is onderbreek toe hy Vrydagmiddag voor sy hofverskyning Rob Ferreira Hospitaal toe geneem moes word.
Mabunda word daarvan aangekla dat hy sy stiefdogter ontvoer, verkrag en vermoor het op 29 Julie 2013. Volgens sy eksmeisie, die slagoffer se ma, het Mabunda op daardie dag vir haar ‘n sms gestuur waarin hy gesê het dat hy die dogtertjie ontvoer en vermoor het. Die polisie het die dogtertjie gaan soek en in die New Forest naby Thulamahashe dood gekry. Sy het net ‘n t-hemp aangehad en die kouse waarmee sy verwurg is, was steeds om haar nek gebind.
Volgens mediese getuienis is die dogtertjie ná haar dood verkrag, wat ten gunste van die beskuldigde kan strek in die verkragtingsaak.
Hy is op 8 Augustus gearresteer en het op 9 en 10 Augustus vir die polisie gaan wys waar die voorval plaasgevind het. Die geldigheid van hierdie uitwysing as getuienis word nou deur die beskuldigde betwis, omdat hy sê dat hy deur die polisie daartoe gedwing is.
Die saak sou Vrydagmiddag aangaan, maar Mabunda het skielik siek geword. Hy is na Rob Ferreira toe geneem waar dit bevestig is dat hy olik was. Die saak hervat op 4 Mei 2015.
