
Mense se slimfone neem blykbaar toenemend hul lewens oor, ten minste in sover as wat hulle dink hulle kan nie daarsonder nie. Dis nou te oordeel aan drama oor twee gesteelde fone wat verlede week tydens ‘n jaareindfunksie by ‘n bekende kuierplek afgespeel het.
Me. Antoinette Hennop vertel hulle het verlede Woensdag by Kokopelli Restaurant & Driving Range gekuier. Daar is ‘n klein dansvloer en sommige gaste het hul handsakke onder die tafel gelos. “Daar was heeltyd iemand wat daar gesit het.”
Toe sy om 20:45 huiswaarts keer, het sy egter agtergekom dat haar foon nie outomaties met die Bluetooth in haar voertuig kontak maak nie. Dit is toe dat sy ontdek het dat haar foon weg is.
Sy en haar man is terug na die restaurant en een van Hennop se kollegas het besef haar foon is ook weg. Kort daarna het een van die karwagte met die fone, in toiletpapier toegedraai, te voorskyn gekom. Hy het gesê hy het hulle by die oefenbof opgetel nadat een van die kelners kort-kort in daardie rigting verdwyn het.
Die een foon se SIM is weg en Hennop se Samsung S5 se skerm is gekraak. Die foon was ook gesluit wat haar laat dink het dat iemand ‘n ander SIM daarin wou sit. Sy het al haar foto’s en data verloor. Dié skade het haar rooi onder die kraag.
“Ek voel nie veilig daar nie. Wat my die meeste kwel is hoe die kelner die fone uit ons sakke kon neem. Dit is op elke vlak onaanvaarbaar.”
Kokopelli het op sy beurt die kelner en wag na die polisiestasie afgevoer, maar die SAPD wou ondanks die wag se verklaring nie ‘n saak oopmaak nie omdat die bewysstukke (die fone) saam met hul eienaars huis toe is.
Die verdagte is wel na die voorval afgedank. Mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice het mense gemaan om nie hul waardevolle besittings onbewaak te laat nie. Hy sê die “inkopieseisoen” is in volle swang en daar sal altyd, oral, opportuniste wees wat voordeel uit so ‘n verleidelike situasie probeer trek.
