Hard newsNewsNews

Panga-aanval op Cairn

Egpaar veg dapper terug teen gewapende rowers.

MBOMBELA – Verbeel jou jy sit op ‘n weeksaand om 19:45 rustig en televisie kyk in jou sitkamer. Jou vrou werk op die rekenaar, maar die volgende oomblik gil sy en bestorm drie mans wat vanuit die niet agter in jou huis verskyn.

Mnr. Koos Rautenbach (64) sê sy vrou, Elda (62) se beskermende moedersinstink moes ingeskop het toe sy hul drie aanvallers Dinsdagaand in hul huis in Cairn aanval. Sy en Koos was ongewapen. Die rowers het ‘n panga, mes en koevoet by hulle gehad.

Elda vertel sy het dadelik gereageer toe die een man met ‘n mes in die hand op Koos, wat het met sy rug na die deur gesit het, afpeil.
“Toe ek omkyk het ek net drie pare oë gesien,” sê Koos.

koos web

Nadat die verdagtes die sekuriteitshek met die koevoet oopgebreek het, is hulle die huis in. Die voorste man met die mes het Elda, wat op hom afgestorm het, uit sy pad gestamp en is reguit na die televisie wat hy summier opgepluk het.

Die man met die panga het op Koos afgestorm, wat sy aanvaller met ‘n bak sop en sy bottel water gegooi het. ‘n Stoeiery het op die nat vloer gevolg en die man kon net houe met die plat kant van die wapen inkry.

Die man met die koevoet het Elda getakel, maar het sy wapen vir ‘n hamer verruil. Die hamer was in die eetkamer want Koos was vroeër nog besig om prente in die huis op te hang. Elda het met haar arms gekeer. En toe breek die hamer se kop af – gelukkig voor sy ernstig beseer kon word.

hamer (533 x 800)

“Ons het eers gedink hulle wou ons nie regtig seermaak nie, maar is later verkeerd bewys. Dit was net genade,” vertel Koos. “‘n Panga is gevaarlik. Jy stop hom nie sommer nie. ‘n Hamer ook nie. Jy hoor dikwels dat jy in so ‘n situasie moet saamwerk, maar my eerlike opinie is dat ons nie so goed daarvan sou afgekom het as ons nie terugbaklei het nie. Hulle het dit in hul lewens nie verwag nie. Ek dink dis hoekom hulle so vinnig hier uit is.”

Die hele voorval het ongeveer twee minute geduur. Buiten die televisie het die rowers op pad uit ook hul die Rautenbachs se selfone gegryp.
Later is die egpaar met vreesaanjaende bewyse op die sekuriteitskameras gekonfronteer: dit wys die verdagtes was vir ‘n halfuur om die huis op soek na ‘n plek om in te kom. “Die slegste is die gevoel dat hulle ons spasie binnegedring het,” vertel Koos emosioneel.

Albei voel hulle was nie genoegsaam paranoïes om die aanval af te weer nie, want toe hulle hond, Baksteen onbedaarlik begin blaf, het hulle nie veel daarvan gedink nie. Elda sê hy was die held want hy het gedoen wat hy moes – hulle gewaarsku. “Hy het mal gegaan.”

BAKSTEEN (800 x 533)
Hulle was egter glad nie op gevaar ingestel nie, iets wat hulle toeskryf aan die veilige omgewing van waar hulle verhuis het. Hulle het Baksteen uit die huis gelaat en hy het ophou blaf. Kort daarna het die drie mans ingestorm.

“Volgende keer as dit gebeur…” begin Elda en lag dan vir haarself. “In die toekoms sal ek meer paraat wees. En as die hond ongewoon optree, aandag gee.” Na die aanval kon hulle Baksteen eers nie vind nie. “Die ergste was toe ons hom nie kon kry nie. Ons het gedink hy is dood want ons het gesien waarmee hulle gewapen was.”

Hy is metteryd opgespoor, al skuimend om die mond. Sy eienaars vermoed die aanvallers het hom in ‘n mate vergiftig. Hy was gelukkig die volgende dag weer sy ou self.

Net ná die aanval het hulle ook die paniekknoppie gedruk en J&M Sekuriteit, Bossies Community Justice (BCJ), Halls se sekuriteit en ER24 was vinnig op die toneel. Die ambulansbemanning kon bepaal dat albei net liggies beseer is. Hulle sê hulle is baie dankbaar vir die goeie diens.

“Ons is dankbaar dat ons nie seergekry het nie, maar dis ‘n simpel argument: dit moes in die eerste plek nie gebeur het nie,” sê Koos.

suspect1   suspect2   suspect3

Al drie verdagtes is op die kringtelevisie-kameras wat om die huis aangebring is, geïdentifiseer. Mnr. Jacques Meiring van BCJ sê hulle vermoed die aanvallers was ook by ander voorvalle in die omgewing betrokke.

‘n Beloning van R10 000 is uitgeloof vir inligting wat na ‘n arrestasie lei. Skakel Meiring by 082-567-5212.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button