Skukuza speurhoof se seun geopereer na motorfietsongeluk
AO Willie Broodryk se seun is Sondag ernstig beseer in 'n motorfietsongeluk. Dít nadat die gesin sy ouer broer twee jaar gelede in 'n motorongeluk verloor het. Pieter is reeds geopereer.
MIDDELBURG – Pieter Broodryk (14), Skukuza-speurhoof AO Willie Broodryk se seun, is gister geopereer na ‘n motorfietsongeluk wat Sondag plaasgevind het. Hy kommunikeer sedert Woensdag by wyse van skrif, maar sukkel nog om te sien.
Hierdie leerling aan Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier, was Sondagmiddag besig om op sy motorfiets te ry toe ‘n dubbelkajuitbakkie voor hom ingery het. Hy is van voor af getref en het bene op sewe plekke in sy gesig gebreek. Sy een been is vergrys en die ander gebreek.
Pieter is na die ongeluk in die Life Midmed Hospitaal opgeneem, waar hy in die intensiewesorgeenheid gestabiliseer moes word voordat sy regterbeen Dinsdag en linkerbeen gister geopereer is. Hy word vandag weer geopereer en Willie het familie en vriende vir hulle gebede en ondersteuning bedank, wat Pieter vandag weer sal nodig hê.
“God staan ons by in hierdie tyd en dokters is sy instrumente. Dankie Heer. Dankie aan almal se gebede sover .Ons wardeer dit opreg. Dankie aan Midmed-personeel, julle diens is puik,” het hy op Facebook geskryf.
Alhoewel Pieter se gesig nog geswel en nog nie geopereer is nie, kon hy Woensdag kommunikeer deur boodskappe te skryf. “My been is seer. Hoekom moes dit gebeur het?” het hy gevra.
Volgens sy pa sal Pieter na die operasies aan sy bene, na ‘n hospitaal in Pretoria oorgeplaas word waar die frakture aan sy gesig herstel sal word.
Lees die aanvanklike storie hier.
