
MBOMBELA – Vyf dae na ‘n egpaar op ‘n kleinhoewe by Cairn aangeval is, het ‘n ander paartjie wat op dieselfde perseel woon, ‘n soortgelyke nagmerrie deurgemaak.
Me. Estelle en mnr. Marcel Adjes is Sondag na 22:00 in hulle huis oorval, vasgebind en beroof. Hulle is nie in die voorval beseer nie.
Volgens mnr. Shaun Terblanché, operasionele bestuurder van J&M Sekuriteit se gewapende reaksie-eenheid, was die twee aanvallers met ‘n panga en .38 rewolwer gewapen en het hulle deur ‘n oop venster sonder diefwering toegang tot die huis verkry.
Volgens mnr. Francois Theron wat ook op die plaas woon en Estelle se nefie is, het Marcel televisie gekyk terwyl Estelle al geslaap het toe die aanvallers die huis betree het. Hulle het hom vasgebind en haar wakker gemaak en ook vasgebind. Daarna is hulle fort met ‘n platskermtelevisie, geld en selfone.
Mnr. Jacques Meiring, operasionele hoof van Bossies Community Justice (BCJ) sê daar word vermoed dat dit dieselfde mans is wat verlede week Dinsdag Theron se skoonouers me. Elda en mnr. Koos Rautenbach aangeval het. Drie mans met ‘n panga, skroewedraaier en koevoet het ook ‘n televisie en selfone gesteel.
Terblanché het bevestig dat hulle presies dieselfde modus operandi gevolg het. “Die draad is op dieselfde plek geknip.” Die verdagtes is na die voorval by die Rautenbachs op kringtelevisie geïdentifiseer. Die Adjes’e het egter nie kameras om hul huis nie. Theron kon teen druktyd nie sê of die egpaar hulle aanvallers kon eien nie.
Hulle wou nie met die koerant praat nie. Theron het gesê sy tante is baie ontsteld oor die voorval. Niemand is nog in verband met die aanval aangekeer nie.
Meiring het mense gemaan om paraat te wees, bedag te wees op enige snaakse geluide en dadelik hul sekuriteitsmaatskappy se paniekknoppie te druk. Hulle kan hom ook skakel by 082-567-5212.
