Keermuur word nou gebou waar muur omgeval het
Die muur wat eers hier gestaan het, het verlede Sondag meegegee en omgeval. Konstruksiewerkers bou nou 'n keermuur om nog so 'n voorval te voorkom.
‘n Keermuur word nou gebou tussen die twee erwe waar ‘n muur Sondag op kinders se klimraam omgeval het.
Inwoners van Koraallaan 13 het Nelspruit Post op 1 Desember gekontak nadat die muur wat die twee erwe van mekaar skei, omgeval het. Hierdie muur het in mnr. Norman Meyer se tuin omgeval waar sy kinders op Sondae speel. Sy dogtertjie, Ciska (12), het vir Nelspruit Post gewys waar haar klimraam staan. Dit was met sand en stukke sement bedek.
Die NHBRC (Nasionale Huisbouers- registrasieraad) en die Wet op Boustandaarde van 1977 se regulasies aangaande die oprig van keermure wat konstruksiewerk voorafgaan is nie nagekom voordat die werke op die aangrensende erf aangepak is nie. Alhoewel hierdie versuim reeds maande gelede onder die munisipaliteit se aandag gebring is, het laasgenoemde glo net gereageer deur ‘n sloot reg rondom die erf aan die binnekant daarvan te grawe.
Hierdie maatrëel het nie veel gehelp nie en die druk van grondmassas en reënwater het die muur laat ineenstort. Sedertdien word ‘n keermuur nou opgerig tussen hierdie twee erwe.
Die konstruksiemaatskappy wat, volgens inwoners, verwantwoordelik was vir die oprig van keermure wat die ineenstorting van ‘n muursegment in West Acres verlede Sondag moes voorkom, versuim egter steeds om Nelspruit Post se vrae in dié verband te antwoord. Hulle het wel gereageer deur ‘n keermuur op te rig wat die doel het om toekomstige voorvalle soos hierdie te voorkom.
Lees oorspronklike artikel hier



.
