MBOMBELA – Mnr. Chris James (27) wat sedert 1 Desember as vermis aangemeld is, is vanmiddag in Sabie opgespoor. Hy sal vanaand of moreoggend terugkeer huistoe nadat hy in die Sabie hospitaal ondersoek is.
James se suster, Sylvia Dick, het Laevelder gekontak as deel van haar poging om haar vermiste broer op te spoor nadat hy op die eerste dag van Desember uit sy tuisdorp, eMalahleni, verdwyn het. Laevelder het gistermiddag berig dat Tracker op ‘n wit Chevrolet Spark met dieselfde registrasienommer as James se voertuig, in plantasies naby Sabie afgekom het.
Dick het vroeër vandag uitdrukking gegee aan haar emosies in ‘n boodskap wat sy aan een van Laevelder se joernaliste gestuur het. “Die onsekerheid wat ons ervaar is die ergste vorm van marteling. Om elke dag te hoop dat iemand vir ons inligting kan gee. Om so hard te wens dat hy net sal opdaag. Ons voel so magteloos omdat ons die veel kan doen nie,” het sy geskryf.
Sylvia het bevestig dat dit waarvoor sy gehoop het, gebeur het toe Chris James vanmiddag in Sabie opgespoor is. Hy het geen ernstige beserings opgedoen nie, maar is hospitaal toe geneem waar hy ‘n standaard ondersoek ondergaan. Hierna sal ‘n familielid hom eMalahleni toe neem. Sylvia wag daar vir hom en kan op hierdie stadium nog nie bevestig waar in Sabie Chris uiteindelik opgespoor is of waarom hy vort is nie.
Dit word vermoed dat hy vir ‘n vriendin in Mbombela wou kom kuier. Laevelder sal binnekort meer inligting in hierdie verband verskaf.
Lees oorspronklike artikel hier.

