Skokgolwe oor veearts se mesdood op landgoed
'n Niksvermoedende vriendin van dr. Rensia de Wet, die bekende Kraai du Preez, het Dinsdagoggend op die skokkende toneel afgekom waar De Wet halfnaak en vermoor in haar huis op die Nottinghill Equestrian Estate gelê het.

WITRIVIER – ‘n Niksvermoedende vriendin van dr. Rensia de Wet, die bekende Kraai du Preez, het Dinsdagoggend op die skokkende toneel afgekom waar De Wet halfnaak en vermoor in haar huis op die Nottinghill Equestrian Estate gelê het.
Perdrykringe het in skok gereageer nadat die nuus bekend geword het dat De Wet waarskynlik Maandagnag ook verkrag is voordat sy met ‘n skerp voorwerp doodgesteek is. De Wet was ‘n vooraanstaande perdevoedingspesialis en veearts.
Volgens brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, kan die polisie nog nie bevestig of sy wel verkrag is nie, terwyl AO Gugu Phiri, kommunikasiewoordvoerder van Witrivier SAPD, wel bevestig het dat die huis geplunder is en dat De Wet se selfoon vermis word.
Du Preez, wat ook die eienaar van die landgoed is, het Donderdagoggend aan Laevelder gesê dat sy 12:00 Dinsdag op De Wet se liggaam afgekom het. “Ek het aanvanklik niks vermoed nie. Rensia het soms laat geslaap. Ek het gereeld vir haar koffie gevat…”
Nog ‘n vriendin, Lande Willemse, wat ook saam met De Wet perdgery het, het haar beskryf as ‘n persoon wat baie lief vir diere en mense was. “Rensia het geleef vir diere, maar sou nie twee keer dink om die deur oop te maak om iemand te help nie. Sy sou enige tyd enigiets gedoen het om iemand te help. Sy is die laaste persoon wat so iets verdien. Sy was ‘n awesome persoon en ongelooflik slim.” Volgens Willemse was De Wet klein gebou en het in die 40’s geweeg. “Sy het altyd haar twee hondjies aan haar sy gehad – hul moes tog geblaf het?”
De Wet het sedert haar studentedae al haar talent gewys deur onder andere in 2002 die Theiler-gedenkmedalje as topstudent van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria ontvang.
Met Laevelder se besoek aan die toneel Woensdagmiddag, was twee ondersoekbeamptes besig om van die plaaswerkers te ondervra en een van die werkers is saam met die polisie weg. Phiri het Donderdagmiddag egter gesê dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.
Volgens ‘n bron wat anoniem wou bly, was daar minder as twee maande gelede ‘n voorval waar perdesleepwaens se bande gesteel is. Volgens die bron is dit by die polisie aangemeld en ‘n saak van diefstal is geopen. Of die voorvalle met mekaar verband hou, is egter onbekend.
De Wet was geskei en het geen kinders gehad nie. Du Preez het gister aan Laevelder gesê dat nog geen begrafnisreëlings getref is nie. “De Wet se familie kom vandag (Donderdag) van Nederland af om dit te doen,” het sy gesê.
Verskeie boodskappe van medelye is reeds op De Wet se Facebook-profiel geplaas. Haar tannie, Jolanda du Randt, wat van oorsee af kom, het onder andere geskryf: “Ek het geen woorde nie, net trane. My hart is gevul met verlies. Dit is so onregverdig, hartverskeurend en ontydig. Ons het gisteraand nog op die foon gepraat en vandag is jy weg. Dis so onwerklik. Jou glimlag, jou lag, jou goedheid en die manier hoe jy my naam gesê het, is vir altyd in my geheue gegraveer. Jy is vir altyd in my hart. Jy is nou by Jesus, in sy liefdevolle arms en vir altyd en ewig by jou geliefdes wat voorheen weggeneem is. Van die eerste oomblik wat ek jou in 1985 ontmoet het, het ek jou liefgehad en sal jou bly liefhê. Rus in vrede.”
Die polisie het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom wat hulle in die ondersoek kan help. Die ondersoekbeampte kan by
082-455-6591 geskakel word.
