
MBOMBELA – Die Laeveld Skouterrein sal in Februarie opgeveil word. Dit volg nadat daar in November aangekondig is dat dié eiendom, wat meer as nege hektaar beslaan, in die mark geplaas gaan word en dat huurders teen die einde van Februarie moet ontruim.
Kennisgewingsborde is reeds aangebring en die grond sal deur Van’s Mpumalanga Auctioneers opgeveil word. Die veiling sal op 26 Februarie om 11:00 by Mercure Hotel plaasvind. “Ons verwag wye belangstelling sodra ons met ons bemarkingsveldtog gaan afskop. Ons het reeds verskeie navrae van belangstellendes gehad,” het mnr. Adriaan Smuts van Van’s gesê.
Die veiling sal onderhewig wees aan ‘n bevestigingstydperk van sewe dae en die koper sal ‘n deposito op die dag van die veiling moet kan neersit en waarborge vir die uitstaande bedrag lewer – binne 30 dae vanaf die datum van bevestiging.
Die grond is tans gesoneer as spesiaal en ‘n voornemende koper sal vir hersonering moet aansoek doen om ontwikkelingsregte te bekom. Bepalings en voorwaardes vir die verkoop sal beskikbaar wees op www.vansauctions.co.za
Veilings is ‘n gewilde manier vir die verkoop van hoëprofiel-eiendomme, juis weens die deursigtigheid van die proses en die goeie pryse wat behaal word.
Daar is lank bespiegel oor die toekoms van die skougrond, asook die skougenootskap met sy kleurryke geskiedenis. Die skougenootskap is in 1949 deur mnr. RCM Dell van Witrivier op die been gebring. Hy was die voorsitter van die Laeveldse Boere-unie en het voorgestel dat ‘n Laeveldse landbouskou gehou moes word. Daad is by die woord gevoeg en die eerste skou is daardie jaar by die bestaande sportgronde van Hoërskool Nelspruit aangebied. Sade, groente, vrugte, tabak, vee en plante is ten toon gestel.
Dell het ‘n openbare vergadering vir 18 Augustus 1949 in Witrivier belê en die Laeveldse Skougemeenskap is amptelik gestig. Die Nelspruitse stadsraad het hulle in 1950 11 morg grond langs die navorsingstasie teen 4 000 pond aangebied.
Dit is later aan die skougenootskap geskenk. Die eerste skou is in 1950 daar gehou en ons ken dit vandag as die Laeveld Skouterrein.
