Hard newsNewsNews

Glassaak teen Johan Blom weer in die hof

Desondanks genoegdoening van R335 000 wat aan mnr. Reghard Koekemoer betaal is, word mnr. Johan Blom nou weer strafregtelik aangekla nadat hy eersgenoemde glo met 'n glas in die gesig gegooi het in 2011. Koekemoer se een oog is sedertdien blind.

MBOMBELA – Mnr. Johan Blom wat mnr. Reghard Koekemoer in November 2011 na bewering met ‘n glas tydens ‘n kroeggeveg gegooi het, word weer strafregtelik vervolg.

Hy het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn op ‘n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat die saak verlede jaar van die rol geskrap is.

Blom en sy seun, mnr. Matt Blom, het die aand by Coyotes gekuier. Koekemoer was ook daar en hy en Matt was in ‘n onderonsie betrokke. Beeldmateriaal wys dat iemand ‘n glas in Koekemoer se rigting gegooi het, waarna Koekemoer sy bloeiende gesig met sy hand bedek het.

Hy is na Rob Ferreira Hospitaal geneem en het sedertdien talle operasies ondergaan, maar sy oog het soveel skade tydens die beweerde voorval opgedoen dat hy steeds nie daarmee kan sien nie.

“My oog is onherstelbaar geskend,” het Koekemoer Laevelder vroeër meegedeel.  “Daar is niks meer wat hulle vir my kan doen nie. Hulle het my aangeraai om dié oog te laat verwyder en met ‘n kunsoog van silikon te vervang.” Die beskuldigde het op Vrydag, 13 September 2013 skynbaar skotvry uit Nelspruit Landdroshof gestap omdat die klaer in die aanrandingsaak teen hom nie vir die verhoor opgedaag het nie.

Dit was die tweede keer wat Koekemoer nie opgedaag het nie en die beskuldigde se regsverteenwoordiger, mnr. Coert Jordaan, het versoek dat die saak van die rol geskrap word.  Die dossier was ook nie by die hof nie en die beskuldigde is gelyk gegee. Koekemoer het hierop gereageer deur te sê dat hy nooit gedagvaar is om in die hof te verskyn nie.

Die klaer het hom toe gewend na siviele reg en ‘n eis vir genoegdoening teen Blom ingestel. Laevelder het op 30 September vanjaar berig dat Blom en Koekemoer buite die hof geskik het. Blom het nagenoeg R335 000 aan Koekemoer betaal en die siviele eis is laat vaar. Koekemoer het sy ongelukkigheid uitgespreek omdat Blom nie meer strafregtelik vervolg is nie en die plaaslike speurtak het weer die saak opgeneem.

Blom moet weer op 12 Januarie in die hof verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button