MBOMBELA – Mnr. Chris James (27) wat sedert 1 Desember as vermis aangemeld is, is vanoggend terug huis toe nadat hy Vrydagmiddag in Sabie opgespoor is.
James se suster, me. Sylvia Dick, het Laevelder gekontak as deel van haar poging om haar vermiste broer op te spoor nadat hy op die eerste dag van Desember uit sy tuisdorp, eMalahleni, verdwyn het. Die koerant het Donderdagmiddag berig dat Tracker op ‘n wit Chevrolet Spark met dieselfde registrasienommer as Chris se voertuig, in plantasies naby Sabie afgekom het. Dick het Vrydag uitdrukking gegee aan haar emosies in ‘n boodskap wat sy aan een van Laevelder se joernaliste gestuur het. “Die onsekerheid wat ons ervaar, is die ergste vorm van marteling. Om elke dag te hoop dat iemand vir ons inligting kan gee. Om so hard te wens dat hy net sal opdaag. Ons voel so magteloos omdat ons nie veel kan doen nie,” het sy geskryf.
Dick het bevestig dat dit waarvoor sy gehoop het, gebeur het toe James Vrydagmiddag naby die bekende Bridal Falls in Sabie opgespoor is. Hul ouer broer, mnr. Gavin James, het daarheen gery om Chris te gaan bystaan.
‘n Mediese ondersoek het onthul dat hy gedehidreer was en erge sonbrand opgedoen het toe hy tussen 1 en 12 Desember in die plantasies rondgedwaal het.
Sy suster het gister aan Laevelder vertel dat haar broer net die bedoeling gehad het om vir ‘n paar dae weg te kom. “Hy wou net sy kop skoonkry en het nodig gehad om weg te kom,” het sy gesê. “Ons is baie bly om hom terug te hê. Hy word vandag uit die hospitaal ontslaan – ons ry juis nou en hy sluit later vandag by ons aan.”
‘n Verklaring aan die publiek is op Dick se Facebook-blad geplaas waarin sy almal se grootste vraag beantwoord: Hoekom is Chris vort? “My broer is op Maandag 1 Desember, hier weg omdat hy ‘n klomp persoonlike kwessies wou deurdink. Hy wou op sy eie wees vir ‘n paar dae sonder dat iemand hom steur en wou seker maak dat niemand hom in die hande kon kry nie. Wat begin het as ‘n staptoer in die berge, het in ‘n nagmerrie ontaard toe hy verdwaal het. Hy kon homself nie ten opsigte van rigting in die enorme plantasies oriënteer nie en weet self nie waar hy was of vir hoe lank hy daar was nie. Daar was niks wat hom teen die elemente kon beskerm nie.
“Hy was oorgelaat aan die son, donder-weer en woeste reënbuie, sonder kos of water. Ons weet nie hoe hy oorleef het nie. Dit is ‘n wonderwerk. Dokters het hom ondersoek en seker gemaak dat hy genoeg rus kry. Ons is dankbaar vir God se genade en vir almal wat ons gehelp het om na Chris te soek.”
Die James-gesin spits hulle nou daarop toe om Chris terug te verwelkom en Dick sê dat die viering van sy terugkeer nou hulle eerste prioriteit is. “Die oproep van die Off-road Rescue Team in Mbombela wat bevestig het dat hy gevind is, het ons op ons knieë gebring. Nou is dit gesinstyd. Ons het baie om te vier!”
