HOEDSPRUIT – ‘n Man van Hazyview is Saterdag per helikopter na die Rob Ferreira Hospitaal toe gevlieg nadat Jessica, die wêreldbekende seekoei en toeriste-aantreklikheid, sy hand gebyt het.
Jessica is ‘n 14 jaar-oue seekoei wat as pasgebore kalfie op 11 Maart 2000 op die wal van die Blyderivier beland het. Sy het nog haar naelstring aangehad toe Me Elsa Joubert haar ingeneem het. Jessica se melk-dieet het saam met haar gegroei en haar dieet bestaan nou uit spinasie, mielies, patats en rooibostee. Sy word nou versorg deur mnr Tonie en me Shirley Joubert.
Baie bekommerdes vrees al vir die afgelope paar jare vir die ergste en sê nou: “ons hét hulle gewaarsku” nadat ‘n man van Hazyview Saterdag deur Jessica beseer is. Sy het Mnr Tonie Joubert se susterskind, mnr Steven Janse van Rensburg, gebyt.
Hoedspruit Mediese Dienste se Peter Papsdorf is om 14:00 Saterdagmiddag telefonies na die Jouberts se huis toe ontbied. Hy vertel dat hy vir Janse van Rensburg by die rivier aangetref het waar sy hand erg beseer was, maar dat die pasiënt in staat was om tot by die noodhelikopter te loop. Hy was wel erg geskok.
In teenstryd met wat in die media beweer word, het die pasiënt nie baie gebloei nie. Sy duim het ook nie aan ‘n velletjie gehang nie,” het Papsdorf aan Laevelder gesë. Alhoewel sy lewe nie in gevaar was nie, het Papsdorf besluit om die noodhelikopter te ontbied, omdat die vel tussen Janse van Rensburg se duim en voorvinger tot so ‘n mate geskeur was dat bloedtoevoer na sy duim erg beperk is. “Dit sou die verlies van sy duim tot gevolg kon hê en dit moes ten alle koste verhoed word.”
Die pasiënt is daardie aand om 20:00 geopereer en gisteroggend ontslaan. Hy het vandag aan Laevelder meegedeel wat Saterdag gebeur het. “Ek was twee jaar gelede saam met oom Tonie en Shirley gemoeid met Jessica se versorging. Sy het my goed geken. Ek het Saterdag na haar toe geswem in die rivier.” Joubert het vertel dat Janse van Rensburg altyd die seekoei op haar neus gevryf het, sodat sy haar mond sou oopmaak. Hy het dit glo gedoen en toe hy sy hand in haar mond gedruk het. “Ek het in die verlede haar kiestande vir haar skoongemaak en wou dit weer doen toe sy haar mond toemaak. Dis tóé dat haar tande my raakhap.” Janse van Rensburg sê dat hy nie sy hand ná twee jaar se afwesigheid in Jessica se mond moes gedruk het nie.
Talle het die Jouberts al gemaan om versigtig te wees, omdat baie vrees dat hierdie seekoei dalk ‘n mens kan leed aandoen. “‘n Wilde dier bly ‘n wilde dier. Die seekoei se gedrag kan nooit voorspel word nie. Sy kan enige dag toeslaan en iemand byt,” sê ‘n boer van die omgewing wat anoniem wil bly. Joubert se buurman het glo al aansoek gedoen vir ‘n permit om Jessica te skiet, omdat sy skade aan die gewasse op sy plaas aanrig.
Joubert glo egter nie dat Jessica enige mens ooit sal skade aandoen nie. “Jessica sal nooit iemand aanval of byt nie,” het hy vandag verklaar. Hy was vir 45 jaar ‘n veldwagter en het jare se ondervinding opgedoen. “Ek het met wilde diere gewerk, wat ons hier doen, word reg gedoen,” het Joubert gesê. Hy het bygevoeg dat hy Jessica en die publiek nooit van mekaar sal weghou nie. “Ek sal haar nooit nié aan die publiek blootstel nie. Sy het miljoene Youtube-aanhangers. Die wêreld wíl haar sien.”
