Hard newsLocal newsNewsNews

Familie soek geregtigheid na ongeluk

Jong vrou bloei byna dood ná ernstige ongeluk tussen Witrivier en Nelspruit.

MBOMBELA – “Die enigste ding wat haar aan die lewe gehou het, is gebed.” Só sê die ma van ‘n vrou wat byna in ‘n gru-ongeluk op die R40 tussen Witrivier en Mbombela dood is.

Me. Yandé Pretorius (25) het Vrydag 12 Desember, omstreeks 19:00 agter in ‘n vragmotor vasgejaag. Die bestuurder het weggery en nou versoek haar familie enige ooggetuie wat hulle kan help in hul soeke na geregtigheid, om na vore te kom.

Die vragmotor, waarvan die agterligte glo nie gewerk het nie, het skielik voor haar Hyundai Getz gerem. Die ongeluk het sowat 3,5km buite Witrivier in die rigting van Mbombela, plaasgevind.

Yandé vermoed dat die vragmotor se bestuurder spoed verminder het toe hy oor die dreunstroke wat verlede jaar op die pad aangebring is, gery het.

Sy kan bittermin van die voorval onthou weens erge kopbeserings. “Ek was in die regterbaan. Ek weet nie of die vragmotor van die linkerkant van die pad oorgetrek het en of dit die hele tyd in die regterbaan was nie, maar ek het hom nie gesien nie, wat beteken sy agterligte het nie gewerk nie. Daar is ook geen ligte op die pad nie, so my sig was belemmer. Ek onthou net daar het skielik rooi ligte voor my geflits toe hy gerem het en toe was daar ‘n slag…”

Die vragmotor het net aanhou ry.

‘n Man wat by die toneel stilgehou en Pretorius herken het, het haar selfoon se SIM-kaart in sy foon gesit en haar oudste broer gekontak voordat die nooddienste ontbied is. Sy was toe nog by haar bewussyn en kon vir hom haar wagwoord gee.

“Ek kan nie onthou wie die man is nie en weet nie of hy die ongeluk sien gebeur het nie.”

 

Yandé se Hyundai Getz ná die ongeluk.
Yandé se Hyundai Getz ná die ongeluk.

Sy het verskeie ernstige beserings opgedoen. Die hoofslagaar in die middel van haar lyf wat al haar organe voed, is deur die impak van die veiligheidsgordel geskeur; verskeie ribbes is gebreek; die veiligheidsgordel het van haar maagspiere afgesny en haar lewe was weens bloedverlies in gevaar. Sy het ook ‘n lang sny op haar knie, wat die been ontbloot
het, opgedoen.

Sy is na Mediclinic Nelspruit gehaas waar sy ‘n noodoperasie ondergaan en 10 eenhede bloed ontvang het. Bloedstollingsmiddels is aan haar toegedien en dokters het nie gedink sy sou die volgende oggend sien nie.
Toe sy wel daardie Saterdagoggend bykom, het sy ‘n beroerte weens al die bloedstollings-middels gekry. Sy moes toe weer geopereer word.

Die linkerkant van haar liggaam was verlam, maar sy het die afgelope maand merkwaardig herstel. “Ek kan nou ‘n vuis met my linkerhand maak wat ek nie voorheen kon doen nie.”

Die eislike sny op Yandé se been.
Die eislike sny op Yandé se been.

Yandé ontvang nou arbeids-, fisio-, neurofisio- en longfisioterapie wat vier maande sal duur.

Die Pretorius-familie staar nou yslike mediese rekeninge in die gesig.

“Ons is desperaat vir enige inligting oor die voorval wat tot geregtigheid kan lei. Ons kan nie al die rekeninge betaal nie. Die vragmotor en die maatskappy aan wie dit behoort, moet verantwoordelikheid neem.”

Enige ooggetuie wat gesien het aan watter maatskappy die vragmotor behoort of wat enige inligting oor die bestuurder het, kan me. Petru Pretorius by 074-089-9594 of 079-490-9497 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button