“Apartheid!” bulder die moordverdagte die hele pad selle toe
Frans Mokoena het weer verlede week in die beskuldigdebank gestaan. Hierdie keer was dit voor die Nelspruit Landdroshof.
MBOMBELA – “Apartheid!” roep die beskuldigde die hele pad selle toe ná sy tweede hofverskyning in minder as ‘n maand. Hy word aangekla van die moord op me. Rensia de Wet.
Laevelder het vroeër ná mnr. Frans Mokoena se hofverskyning op 15 Desember, berig dat hy vermoedelik met nog voorvalle soortgelyk aan die beweerde verkragting en moord op De Wet verbind word. Hy is Dinsdagoggend in die Witrivierse gevangenis, waar hy sedert 13 Desember in aanhouding is, ook vir ander beweerde misdrywe in Mbombela gearresteer.
‘n Smalende Mokoena het kort hierna in die Nelspruit Streekshof voor landdros mnr. De Wet Oosthuizen verskyn. Hy is aangekla van roof met verswarende omstandighede, verkragting en poging tot moord op ‘n vrou in Matsafeni. Hierdie beweerde voorval het die slagoffer, wie se identiteit nie bekendgemaak mag word nie, getref voordat die beskuldigde vir die moord op De Wet gearresteer is.
Senior staatsadvokaat me. Isabet Erwee het op rekord geplaas dat ‘n getuie Mokoena tydens ‘n uitkenningsparade met die beweerde misdade verbind het. Sy het ook genoem dat hierdie getuie wel nie die klaer is nie.
Dinsdag se hofverrigtinge is kort-kort onderbreek deur die beskuldigde se aanmerkings in siSwati. Hy het eers ‘n gestryery oor sy ouderdom ontketen en daar is onsekerheid of hy in 1984 gebore is, en of hy soos hy beweer, 21 of 22 jaar oud is. Sy land van herkoms is ook onseker. Die departement van binnelandse sake is genader om hieroor klaring te gee.
Mokoena het telkens sy hand opgesteek om op spreekbeurte aan te dring. Hy het aangedui dat hy van ‘n regshulpraad-prokureur vir sy borgaansoek wil gebruik maak.
Die staat sal sy borgaansoek teenstaan omdat hy reeds van De Wet se verkragting en moord aangekla is. Hy het in reaksie hierop sy kop geskud.
“Mokoena, die klagtes teen u is ernstig, daarom is ‘n lewenslange vonnis in die geval van skuldigbevinding hier ter sprake,” het Oosthuizen opgemerk. Die beskuldigde is hierna by die trappe af vergesel. Hy het sy hande in die lug gegooi terwyl hy die woord “apartheid!” uitgeroep het.
Hy het weer vanoggend in die Witrivier Landdroshof veskyn en sal op 13 Januarie in Nelspruit verskyn. Hy sal intussen in Witrivier in aanhouding bly.
Mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om in groot getalle teenwoordig te wees wanneer Mokoena voor die hof staan.
“Die waarde van massateenwoordigheid sal ‘n duidelike boodskap oor die gemeenskap se gevoel jeens voorvalle soos hierdie uitstuur. Ons howe neem gemeenskapsbelange in ag tydens borg-aansoeke en misdaadverhore. Elkeen se teenwoordigheid kan tot ‘n sterker stem teen misdaad bydra,” het Meiring gesê.
Koop môre se koerant vir ‘n gedetailleerde verslag van vanoggend se gebeure in die Witrivier hof.
