MBOMBELA – Motorongelukke is een van die grootste oorsake van padsterftes gedurende die feesseisoen. Twee spelers van die Steval Pumas het ‘n nare ervaring gehad toe hulle tydens hul Kersvakansie in die Kaap in ‘n grubotsing op die N1 betrokke was.
Die losskakel, Justin van Staden, sy vriendin Robyn Marsh en sy spanmaat, die vleuel Jerome Pretorius, het geen ernstige beserings opgedoen nie en behoort stelselmatig te herstel. Die bestuuder van die ander voertuig het vermoedelik aan die slaap geraak en is in die botsing dood.
Hulle het op Vrydag 2 Januarie na Pretoria huiswaarts gekeer toe die ongeluk omtrent 40 kilometer voor Beaufort-Wes plaasgevind het.
“Ek onthou dat die bestuurder van die ander voertuig teen die reling langs die aankomende linkerbaan gebots het. Die motor het toe na ons kant toe gegly. Daar was glad nie tyd om uit te swaai nie omdat dit als so onverwags en vinnig teen 120km/h gebeur het,” het Van Staden vertel.
Volgens hom het hy sy wit Toyota Hilux teen die rooi aankomende motor se bestuurderskant gebots, en albei karre het gerol.
Van Staden het sy sleutelbeen gebreek terwyl Pretorius skraapmerke op sy gesig en ‘n sny aan sy oog gekry het. Sy rug en nek is ook beseer. Marsh het haar nek seergemaak en het twee snye op haar knieë opgedoen. Al drie het nog baie lyfseer.
“Ek is net baie bly dat ons beskerm was. Dit kon baie erger gewees het,” het Van Staden genoem. Hulle was teen druktyd steeds in die Kaap.
