
Drie vermeende diewe is Vrydag in hul spore gestuit etlike oomblikke nadat hulle ‘n voertuig se ruit stukkend geslaan het om ‘n skootrekenaar te buit.
Volgens mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice (BCJ) wat die mans in die omgewing van die Riverside-nywerheidsgebied vasgetrek het, het hulle verdag voorgekom.
“Ek het agterdogtig geraak toe ek opgemerk het dat die blou Conquest waarin hul gery het, nie ‘n nommerplaat gehad het nie en besluit om hulle dop te hou,” het Meiring gesê. Die verdagtes het kort daarna toegeslaan.
Volgens Meiring het die een die voertuig met die skootrekenaar se ruit stukkend geslaan en rustig na sy wagtende makkers in hulle voertuig teruggestap. Meiring het toe die kar genader en die bestuurder het so groot geskrik dat hy die enjin laat staak het.
Hy sê die skootrekenaar is in hul besit gevind asook ‘n motorafstandbeheerder wat vermoedelik gebruik word om by voertuie in te breek. ‘n Polisie-uniformhemp en ‘n glimbaadjie is glo ook gevind.
Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en J&M Sekuriteit was ook op die toneel, sowel as die SAPS.
Die mans het verskeie opmerkings vanuit die polisievangwa na Meiring se kant geslinger en onder meer gesê dat hulle hom gaan toor. Hierop het Meiring geantwoord dat sy God baie groter is as hul praatjies.
Teen druktyd was dit nog nie duidelik wanneer die verdagtes in die hof sou verskyn nie.
• BCJ doen verder ‘n beroep op die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir ‘n swart Golf 1 met vier verdagtes wat mense vermoedelik beroof. Volgens Meiring het hulle Maandag ‘n vrou probeer kaap. Die bestuurder is glo skeel.
