Hard newsNewsNews

Nelspruit Post se gids tot parool

Nelspruit Post bied 'n vereenvoudigde verduideliking van wat parool is en hoe dit werk.

Die man wat aangekla word van die moord op me. Rensia de Wet, ‘n veearts van Witrivier, was uit op parool toe hy haar na bewering in Desember verkrag en vermoor het.  Hierdie getuienis het Maandagoggend tydens mnr. Frans Mokoena se verskyning in die Witrivier Landdroshof, aan die lig gekom.  Die onlangse skuldigbevinding van paralimpiese atleet, Oscar Pistorius het landswyd verskeie vrae oor parool ontketen. Nelspruit Post bied ‘n vereenvoudigde verduideliking van wat dit is en hoe dit werk.

Wat is parool?

Die prosedure maak voorsiening daarvoor dat ‘n gevangene uit die tronk vrygelaat mag word voordat die totaal van sy/haar vonnis uitgedien is. Die oorblywende gedeelte van die tronkstraf word dan buite die gevangenis voltooi, onderhewig aan streng voorwaardes soos verpligte gemeenskapsdiens, huisarres en ‘n verbod op die gebruik van dwelms en alkohol.

Wat is die doel van parool?  

Dit bied die gevangene die geleentheid om binne beheerde omstandighede na die lewe buite die gevangenis toe terug te keer. Die ontvanger van parool word wel streng gemonitor, volgens aanbevelings wat deur die paroolraad bepaal word.

Wanneer kom ‘n gevangene vir parool in aanmerking?  

Waar dit blyk dat die gevangene gedurende die uitdien van sy vonnis gerehabiliteer is, nie ‘n gevaar vir die samelewing inhou nie en begrip vir die aard en gevolge van sy misdade toon. Die persoon moet ook berou toon vir sy dade.

Die volgende kategorieë vir parool geld sedert 1 Oktober 2004:  

Vasgestelde vonisse – die kortste tydperk van drie periodes moes verstryk het voordat ‘n gavengene kwalifiseer vir parool. Hierdie drie periodes is die helfte van die gevangene se vonnis, ‘n periode wat vooraf deur die hof bepaal is waarin parool nie toegestaan mag word nie, óf 25 jaar van die gevangene se vonnis moet reeds afgelê wees.

Gewoontemisdadigers mag eers ná sewe jaar agter tralies vir parool oorweeg word.

Die strafproseswet bevat lyste van misdade wat in verskillende skedules verdeel word. Waar ‘n vonnis vir een van hierdie misdrywe opgelê is, word gevangenes vir parool oorweeg nadat 80 persent van die vonnis uitgedien is. Die gevangene mag wel voor ‘n hof gebring word, wat mag beveel dat hy/sy in aanmerking vir parool kan kom nadat twee derdes van sy vonnis uitgedien is.

Wie besluit of ‘n gevangene op parool vrygelaat mag word?  

Die paroolraad het diskresie in aansoeke waar die gevangene nie as ‘n gevaarlike misdadiger in terme van die Strafproseswet geklassifiseer is nie.

Wie vorm deel van die paroolraad?  

Gemeenskapslede wat as gepas en geskik beskou word om deel van ‘n spesifieke paroolraad te vorm, word deur die Departement van Korrektiewe Dienste opgelei. Die posisies van voorsitter, adjunk-voorsitter en sekretaresse van die raad word deur opgeleide amptenare van die departement gevul. Verteenwoordigers van die SAPD en Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling kan ook deel vorm van die paroolraad. Die gevangene se aansoek word voor hierdie raad aangehoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button