Hard newsLocal newsNews

Dokters is tevrede na unieke breinoperasie

"Die dokter sê die vel oor Wimpie se brein is só dik dat dit waarskynlik nie nodig sal wees vir nog 'n operasie nie." Hy sal wel vir die volgende ses maande 'n valhelm moet dra om sy brein te beskerm.

MBOMBELA – ‘n Man wat met ‘n plastiekskedel toegerus is na ‘n ernstige ongeluk byna ‘n jaar gelede, is weer in Mediclinic Nelspruit weens komplikasies opgeneem.

Dokters het Vrydag die plastiekskedel wat oor mnr. Wimpie Boshoff se brein geplaas is, verwyder asook die plate wat sy brein stut nadat dit dwarsdeur sy vel begin steek en infeksie veroorsaak het.

Volgens sy ma, me. Ina Boshoff, wat hom die afgelope twee maande tuis versorg het, wou dokters hom verlede maand al opereer. Die Boshoff-familie het egter besluit om dit eerder vroeg hierdie jaar aan te pak, omdat hulle graag Kersfees saam met hom by die huis wou spandeer.

Sy het Vrydag na afloop van die operasie gesê dat, hoewel dit eers ‘n paar weke later plaasgevind het, dit ‘n sukses was en dat dokters met sy toestand tevrede is. “Die dokter se woorde was dat Wimpie in ‘n uitstekende kondisie is.”

Saterdag het sy toestand egter effens versleg en was sy polsslag baie hoog. Sy bloeddruk het ook gestyg. “Dokters het verduidelik dat dit ‘n teken was dat Wimpie pyn het,” het sy ma gesê, maar bygevoeg dat dit blyk of ‘n veloorplanting wat aanvanklik na dié operasie sou plaasvind, nie meer nodig sal wees nie.

“Die dokter sê die vel oor Wimpie se brein is só dik dat dit waarskynlik nie nodig sal wees vir nog ‘n operasie nie.” Hy sal wel vir die volgende ses maande ‘n valhelm moet dra om sy brein te beskerm.

Wimpie was op 28 Februarie verlede jaar – slegs ‘n paar dae na sy 24ste verjaardag – in ‘n motorfietsongeluk op die Longtompas betrokke. Hy is eers etlike ure later deur ‘n verbyganger opgemerk en nooddienste is onmiddellik ontbied.

Hy is sowat 85 meter van die punt van impak gekry en het ernstige breinbeserings opgedoen. Sy skedel moes in ‘n noodoperasie verwyder word, maar weens nalatigheid kon dokters dit nie terugsit nie omdat sy skedel nooit gevries is nie, en gevolglik gevrot het. “Niemand het gedink Wimpie sou dit maak nie. Ek dink dokters het maar vinnige maniere gesoek om als net toe te maak en probeer om sy pyn te verlig. Nou word hy ongelukkig onnodig deur dinge gesit.”

Wimpie kan nie praat of self beweeg nie. Hy het geen beheer oor sy spiere nie en kan nie self eet nie. Hy is ook op doeke. Sy ma noem dat sy toestand nie verbeter nie, maar ook nie versleg nie en daarom bly hulle hoopvol.

“My geloof is baie groot. Wimpie gaan weer met my praat, dit weet ek. Al is dit eers oor 10 jaar, my seun sal weer met my praat,” het sy vol moed gesê.

Die familie is egter dringend na ‘n verstelbare hospitaalbed op soek wat Wimpie se versorging tuis sal vergemaklik. Indien enige persoon weet waar die familie so ‘n bed kan kry, kan hulle 083-412-7307 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button