‘n Inwoner van West Acres is Vrydagmiddag onaangenaam verras toe sy met talle van haar besittings, insluitend ‘n sitkamerstel, op haar grasperk met haar tuiskoms verwelkom is.
Volgens me. Loura van Dijk het sy ongeveer 14:30 huiswaarts gekeer, sowat ‘n uur en ‘n half vroeër as normaalweg en haar besittings buite die huis opgemerk.
Sy het onmiddellik onraad vermoed en besef dat iemand besig was om haar huis leeg te dra.
Van Dijk vermoed dat hulle haar waarskynlik vir ‘n geruime tyd dopgehou het en presies geweet het wanneer sy tuiskom. Vrydag het sy egter vroeër as gewoonlik teruggekeer en die boosdoeners betrap.
“Ek vermoed hulle het oor die heining gespring toe hulle my gewaar,” het sy geskok vertel en gesê dat as sy eers om 16:00 by die huis sou aankom, haar hele huis waarskynlik leeggedra sou wees.
Die diewe het glo die voordeur oopgebreek en die staaldeur aan die binnekant uit die sement geruk om toegang te verkry.
Hulle het haar juwele gebuit sowel as talle kleiner elektroniese toestelle wat ‘n selfoon en kamera insluit.
Van Dijk het onmiddellik die polisie ontbied, maar kon aanvanklik nie deurkom nie.
“Ek het 10 111 geskakel, maar daar is vir my gesê dat hulle my nie kan help nie omdat hulle in Witrivier was. Hulle het vir my ‘n nommer vir Nelspruit gegee, maar eers na 10 of 15 minute het iemand die telefoon geantwoord.” Sy vertel dit het ‘n verdere twee uur geneem vir die polisie om eindelik op te daag. Die kersie op die koek was egter toe die vingerafdruk-deskundige eers die volgende dag daar opdaag.
“Dit was chaoties. Klere het oral op die vloer rondgelê, maar ons kon aan niks raak voordat vingerafdrukke geneem is nie.”
Volgens van Dijk se huishulp wat om 13:00 klaar gewerk het, was daar vroeër die dag ‘n man wat kom vra het vir werk.
“Dit mag dalk verband hou met die voorval,” het sy gesê.
Dit was na wat verneem word die derde voorval in ‘n week in Percy Fitzpatrickstraat.
Mnr. Jacques Ainslie van Hi-Tech Sekuriteit het egter gesê dat dié area ten tyde van die voorval nog nie as ‘n hoë-prioriteitsomgewing geklassifiseer was nie.
Volgens hom het hulle wel ‘n toename in rooftogte opgemerk net voor die skole begin het, maar bygevoeg dat dit veral buiteareas is wat erg geteiken word.
Ainslie het ‘n beroep op die publiek gedoen om op die uitkyk te wees vir enige verdagte aktiwiteite en aangeraai dat mense vroeg saans hul deure sluit en alarms aanskakel.
“Kwaaddoeners is aktief van so vroeg as 20:00 en slaan toe sodra mense rustig begin raak en dit die minste verwag.”
