Hard newsNewsNews

Baba verloor stryd teen ernstige longsiekte

Ek en my man het besluit ons gaan baklei tot die einde. Ons wou kon sê ons het alles probeer

MBOMBELA – ‘n Ouerpaar van Witrivier het verlede week op hartroerende wyse van hul 15-maande oue babadogtertjie afskeid geneem wat uiteindelik die stryd teen ‘n ernstige longsiekte verloor het.

Lize Marie Fourie en haar man, Karel, ervaar egter ‘n mate van verligting na die dood van hul klein “engeltjie” – Anzell – omdat die siekte uit die staanspoor ‘n doodsvonnis was en haar kanse op herstel byna nul.

Lize Marie het aanvanklik nie eens geweet sy is swanger nie. ‘n Bloedtoets het aangedui sy is ses weke swanger, maar ‘n sonar het later gewys dat sy al 15 weke swanger was. Hulle het reeds ‘n seuntjie, Janco (nou 4) en was in die wolke oor die tweede swangerskap. Dit het sonder enige komplikasies verloop en Anzell is op 20 September 2013 gebore.

Lize Marie het gesukkel om haar te borsvoed. Dit was asof sy nie lekker kon suig nie en asemnood ervaar het. Sy het vir haar neusdruppels gegee en dit het beter gegaan. Ma en baba is huis toe gestuur, maar Anzell het deurentyd met haar asemhaling gesukkel. Sy is in Januarie verlede jaar in die hospitaal opgeneem en met sterk antibiotika vir longontsteking behandel.

Sy is ontslaan, maar het in Mei erge komplikasies ervaar en is wéér opgeneem. “Hulle het X-strale van haar longe geneem en gesien dat haar linkerlong platgeval het. Ons is meegedeel dat sy dadelik na die Sunninghill Hospitaal in Gauteng moes gaan vir behandeling,” het Lize Marie vertel.

Sy het nog saam voor in die ambulans gery toe Anzell oorgeplaas is. “Die ambulansman het meteens koel en kalm gesê dat ons gou moes stop, omdat hulle Anzell moes resussiteer,” onthou sy. Haar dogtertjie het ophou asemhaal en paramedici moes spook om haar weer by te bring. Dit is glo weens die verskil in lugdruk veroorsaak. Anzell is in Sunninghill opgeneem en sou twee maande daar deurbring. Sy was vir meer as ‘n maand aan ‘n ventilator gekoppel en dokters het kopgekrap oor hoekom haar linkerlong platgeval het.

Hulle het uiteindelik vasgestel dat Anzell se hoofslagaar haar longpyp toegedruk het. Sy het ‘n ses uur lange operasie ondergaan waartydens die slagaar verleng is en dokters het die prosedure as ‘n sukses bestempel.

Haar longetjie het egter die volgende oggend weer platgeval. Hulle het besef dat die druk in haar longe bly opbou en Anzell is toé eers met die eintlike oorsaak gediagnoseer: pulmonêre hipertensie. Dit veroorsaak geweldige hoë druk in die longe se are en daar is geen geneesmiddel vir dit nie. Dit bring ook mee dat die hart vergroot.

Lize Marie en Karel het wel gehoor van medikasie oorsee wat dalk sou help, maar dit is nog nie deur die Suid-Afrikaanse Medisyneraad goedgekeur nie. Sy is toe maar hier met medikasie, onder andere Viagra, behandel. Dit het beter gegaan en Anzell is ontslaan. Sy moes egter permanent ekstra suurstof ontvang.

Op 8 Januarie het Lize Marie Anzell na haar dagmoeder gevat. “Die vrou het vir Anzell kos gegee en is kombuis toe om haar bottel te kry. Toe sy terugkeer, het Anzell twee hoesies gegee en skielik haar bewussyn verloor,” vertel Lize Marie.

Sy het egter weer bygekom en nogal geglimlag. Tog is haar ouers reguit met haar hospitaal toe en X-strale het gewys sy het slym op haar longe. Sy is in die hoësorgeenheid vir waarneming opgeneem en twee dae later ontslaan.

Die aand van 12 Januarie het sy vreeslik gehuil en Lize Marie kon agterkom sy sukkel om asem te kry. Sy het haar die volgende dag weer by die dagmoeder gaan aflaai en het gedink dat sy die hele dag sou slaap, juis omdat sy die vorige aand so sleg geslaap het. Die dagmoeder het haar egter later geskakel en gesê Anzell bly onrustig en het nog glad nie geslaap nie.

Lize Marie het haar gaan haal en is met haar na ‘n fisioterapeut sodat hulle haar vir die slym op haar longe kon behandel. ‘n Arbeidsterapeut het haar suurstoftelling geneem en Lize Marie aangeraai om haar eerder weer in die hospitaal te laat opneem.

Sy is daardie aand weer in Mediclinic Nelspruit se hoësorg opgeneem en behandel vir ‘n longinfeksie. Omstreeks 20:00 daardie aand het sy uiteindelik geslaap en Lize-Marie is huis toe. Om 01:30 het die hospitaal haar gebel en gesê dat Anzell na die intensiewe sorgeenheid geskuif gaan word en dat “dinge nie goed lyk nie”.

Karel is na die hospitaal en Lize Marie het by Janco gebly. Slegs ‘n uur later het haar man haar gebel en gesê sy moet kom. ‘n Vriendin het met Lize-Marie na Mediclinic gejaag. Toe hulle daar kom, het Karel en die dokter reeds vir haar buite gewag.

Lize-Marie begin huil as sy vertel: “ek het haar nie die vorige aand totsiens gesoen nie. Sy het uiteindelik geslaap en ek wou haar nie wakker maak nie.” Dokters het Anzell vyf keer met adrenalien gespuit, maar niks kon haar red nie.

“Ek en my man het besluit ons gaan baklei tot die einde. Ons wou kon sê ons het alles probeer,” huil Lize Marie. Anzell het toe egter daardie besluit vír hulle geneem, sê sy. “Dis nou klaar”.

Lize Marie is na die intensiewe eenheid om na Anzell se liggaampie te gaan kyk. Sy vertel dat Anzell baie gesweet en daarom met ekseem gesukkel het. “Toe ek by haar kom, was die ekseem weg. Haar velletjie was pragtig spierwit en haar krulhaartjies het perfek gelê.”

Die susters wat diens doen in die intensiewe sorgeenheid het altyd Christelike liedjies vir Anzell gesing. Lize Marie het hulle gevra om vir oulaas vir haar dogtertjie te sing. Hulle het weer ‘n kring om haar bed gevorm en “you’re my little rose bud” gesing.

Lize Marie het rus in haar hart gekry. “Nou bly net die verlange en herinneringe oor.” Dis vir haar en Karel swaar by hulle huis in Witrivier. Hulle het Anzell se goedjies begin wegpak, maar eers weer opgehou.

Dit was vir haar hartseer om te sien hoe ander kinders van Anzell se ouderdom gegroei en hul mylpale bereik het. Anzell het maar 7,5kg geweeg waar sy eintlik 13kg moes weeg. Sy kon slegs sit en haar armpies het van uitputting begin bewe as sy haar bottel vasgehou het. “Maar sy was ‘n sonstraaltjie. Sy het nooit met ‘n gehuil wakker geword nie,” glimlag Lize Marie. Haar kind het nie veel van ‘n baba-lewe gehad nie en sy het gevrees oor water kwaliteit lewe haar dogtertjie as kleuter sou geniet.

“Ek wens dit vir niemand toe nie,” sê sy beslis. Sy is gesteriliseer toe Anzell met ‘n keisersnit gebore is en hulle berus by die feit dat hulle slegs een kind gaan hê.

Laevelder het ook al berig oor Leonique van der Walt (13) van Mbombela, wat reeds jare lank aan pulmonêre hipertensie ly. Sy is ‘n gr.6-leerling by Laerskool Laeveld. Haar ma, me. Theresa van der Walt, het by navraag gesê dat Leonique se toestand baie verbeter het en dat sy nou slegs per geleentheid ekstra suurstof moet gebruik.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button