Egpaar se liefde is goud werd
Hulle bly op die plaas Twyfelfontein - oom Andries (73) en tannie Petro (71) Steenkamp - maar in die 50 jaar van hul getroude lewe, was daar nog geen twyfel dat hulle bymekaar hoort nie.
LYDENBURG – Hulle bly op die plaas Twyfelfontein – oom Andries (73) en tannie Petro (71) Steenkamp – maar in die 50 jaar van hul getroude lewe, was daar nog geen twyfel dat hulle bymekaar hoort nie.
Dié twee het mekaar by ‘n kerk in die klein myngemeenskap van Penge (sowat 70 kilometer duskant Burgersfort) ontmoet. Ná vier jaar van hofmaking is dié paartjie op 16 Januarie 1965 getroud.
Volgens oom Andries was die vier jaar vol vele struikelblokke, soos afstand en kommunikasieprobleme, want tannie Petro is toe Pretoria toe om te studeer terwyl hy in Penge agtergebly het. Maar die liefde het alles oorwin.
‘n Berig oor die twee se troue het destyds ook in Die Lydenburg Nuus verskyn waarin staan: “Alles te saam was hierdie ‘n baie mooi en genotvolle huwelik wat in alle opsigte vlot verloop het, en ons spreek die hoop uit dat die toekoms vir hierdie twee saam baie geluk en voorspoed sal inhou”.Verlede Vrydag het die egpaar hul goue bruilof gevier.
Uit oom Andries se oogpunt is fisiese oefening en werk die geheim vir ‘n lang en gelukkige huwelik.
“Harde werk bedags maak ‘n mens baie ontspanne, en ek het ‘n goeie vrou getrou.”
Binne die eerste 10 jaar van hul huwelik, is hul twee kinders, Armand (48) en dogter Suzet (46) gebore. En vandag, ná al die jare, seëvier die liefde steeds.
