Hard newsLocal newsNewsNews

Vrou nie in sak en as na weerlig tref

Sy sê haar versameling antieke meubels, wat jare geneem het om bymekaar te maak, is 'n yslike verlies. Die pragtige tapisserie wat sy by haar ma gekry het, is onvervangbaar.

ROCKY DRIFT – “Ek is ‘n sterk vrou. Ek sal met ‘n glimlag hierdeur kom.”

Me. Maré Kuhn, wie se eenslaapkamer-woonstel Vrydagaand vlam gevat en afgebrand het nadat dit deur weerlig getref is, is besig met ‘n bestekopname van al die kosbare besittings wat in die ramp verwoes is.

Sy sê haar versameling antieke meubels, wat jare geneem het om bymekaar te maak, is ‘n yslike verlies. Die pragtige tapisserie wat sy by haar ma gekry het, is onvervangbaar.

“My ma is verlede jaar oorlede, so dié kunswerk is iets wat ek nooit sal terugkry nie. Ek het R2 000 vir die raam betaal en een van my vriende het vir my ‘n pragtige esel gekoop waarop die geraamde tapisserie gestaan het. Dis nou als weg.”

Kuhn het verlede Vrydagaand in haar bed gelê en lees toe die weerlig haar huis raakslaan. Sy het dit eers besef toe sy ‘n geknetter in die sitkamer hoor. Sy het eers gedink dit was die bure se hond wat, soos gewoonlik, aan haar deur kom krap het. Sy het met ‘n skok ontdek dat dit die geluid van haar sitkamer was wat afbrand.

Die sitkamer en kombuis het byna tot die grond afgebrand. Haar bad- en slaapkamers is pikswart gevlek soos wat die vuurtonge dit bereik het. Kuhn het nie versekering nie en is besig om haar lewe stuk vir stuk te herbou. ‘n Vriendin van Kuhn het toiletware aan haar geskenk.

“Ek het nog geen hulp van vreemdelinge gekry nie, maar my vriende en familie was staatmakers deur hierdie tyd van beproewing.”

Sy sê haar eerste prioriteit is om die huisie weer reg te kry. “As iemand vra wat ek nodig het, sê ek eers plafonborde en elektriese toestelle. Die ander goed kan ek stelselmatig aankoop.” Sodra die woonstel herstel is, gaan Kuhn weer daar intrek.

“Ek bly alte heerlik hier. Ek sal verseker nie trek nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button