MBOMBELA – Me. Christine Bruins, voormalige dagmoeder wat haar dagsorgsentrum in Witrivier gesluit het en van kindermishandeling en aanranding aangekla is, sal op 12 Maart terugkeer na die Nespruit Streekshof toe vir die uitspraak in die saak teen haar.
Haar getuienis is opgevolg deur slotbetoë vir beide kante van die saak en daar is na die getuienis verwys wat deur die loop van die saak gelewer is. Bruins was aan die hoof van ‘n dagsorgsentrum in Witrivier wat tussen Julie 2000 en September 2010 bedryf is. Sy is sedert 2007 deur me. Lettie Magagula bygestaan. Bruins het getuig dat die sentrum nooit in terme van voorgeskrewe wetgewing geregistreer is nie.
‘n Ondersoek teen Bruins se dagsorg-sentrum is in 2010 geloods toe haar huishulp, me. Janet Mtetwa, met ‘n foto vorendag gekom het van ‘n kind wat in haar dagsorg met ‘n lapdoek vasgebind is. Mtetwa was toe vir drie maande in Bruins se diens en die twee se verhouding het suur geword omdat Mtetwa glo traag was om by haar werksure te hou. Die saak is verder ondersoek en die voorval het ter sprake gekom waar ‘n ander kind se ma vir Bruins kom sien het omdat ‘n vingermerk op haar kind se been opgemerk is. “Lettie het gesê sy het hom pak slae gegee,” het Bruins hieroor getuig. “Ek was nie daar toe dit gebeur het nie, maar het haar daaroor aangespreek en die voorval met sy ma bespreek.”
“Ek stel dit aan u dat daar verskeie voorvalle was waartydens u die kinders in u sorg wél vasgebind het,” het Marais teenoor Bruins gesê. Die beskuldigde het geen kommentaar op hierdie stelling gehad nie. Marais het aangevoer dat daar teveel kinders in haar sorg was – sy het op ‘n stadium na 12 kinders omgesien – en dat Bruins nie al die kinders kon hanteer nie. “Dis nie waar nie,” het Bruins gereageer.
Marais het landdros mnr. André Geldenhuys versoek om Bruins aan aanranding en kindermishandeling skuldig te bevind en daarna verwys dat haar aansoek op ontslag op grond van ‘n gebrek aan genoegsame getuienis om ‘n prima facie-skuldigbevinding te regverdig, nié toegestaan is nie.
“Mevrou, het u die kinders in u sorg aangerand?” het haar regsverteenwoordiger, mnr. Coert Jordaan, gevra. “Nee,” het Bruins geantwoord. Jordaan het later die geloofwaardigheid van die staatsgetuies bevraagteken. “Die Mevrou Hills wat die saak teen Bruins gemaak het, het beweer dat haar kind met merke aan sy kop en rug van die dagsorg af teruggekom het. Dit het daarna in die hof uitgekom dat hy hierdie merke opgedoen het toe hy tuis van die trappe afgeval en teen ‘n kraan in die bad gestamp het,” het hy gesê.
“Mtetwa en Magagula het hulleself, mekaar én hulle eie verklarings weerspreek toe hulle in die hof getuig het,” het Jordaan betoog. “Mtetwa is aangespoor deur venyn en Magagula is by Mtetwa se agenda betrek.”
