
MBOMBELA – Koolhidrate – vriend, of vyand? Die nuwe jaar is hier en almal om my het opnuut koolhidrate en alkohol afgesweer in ‘n poging om die Krismis-vetjies af te skud.
Ek dink noodwendig aan ‘n grappie wat die afgelope feesseisoen op Facebook geshare is: “Don’t blame the holidays, you were fat in August”.
Rapport se voorblad het dit uitbasuin: “‘n Dieetbom kom”. Tim Noakes het reeds die wêreld van voeding soos ons dit ken met sy sogenaamde Banting-dieet op sy kop gedraai. Hy beweer dat daardie stukkie vet aan jou tjoppie of biltong eintlik goed is vir jou en dat dit eerder koolhidrate is wat gesondheidsgevare inhou. Noakes sê nou dit was maar net die begin. Hy tree eersdaags af en beloof om die bestaande kennis nog meer uit te daag.
Kenners reageer heftig hierop. Hulle voer aan dat Noakes se navorsing vol gate is en dat sy dieet pasiënte met hartkwale se dood kan beteken. My ousus wat ‘n stryd teen die skaal voer, merk moedeloos op: “ek is vet en verward”.
Sy is nie die enigste een nie. Al hoe meer mense wat sukkel om brood en pasta die rug te draai, vervang dit nou met glutenvrye opsies in ‘n poging om gewig te verloor, terwyl gluten jou eintlik glad nie vet maak nie.
Ek self het 45 kilogram in sowat 15 maande verloor. En ja, ek het my koolhidraatinname drasties verminder, maar dit nie heeltemal uitgesny nie. Ek eet glad nie suiker nie, behalwe vir ‘n snytjie koek of ‘n mengeldrankie nou en dan en ek oefen vyf keer per week.
Ek eet ook glad nie brood nie, tensy dit ‘n tradisionele braaibroodjie met tamatie, uie en kaas is. Vir dié lekkerny sê ek nie sommer nee nie. Ek verkies ook volgraanrys en -pasta bo hul wit eweknieë, omdat dit ‘n laer glukemiese indeks het en my dus langer laat versadig voel en met meer energie laat.
In September 2012 het ek die skaal op 99 kilogram laat kreun toe ek besluit het: Genoeg is genoeg. Ek het baie gesondheidsprobleme ervaar en gesukkel om klere te kry wat pas. Ek het uit die staanspoor besluit om ‘n leefstylverandering te maak, eerder as om ‘n spesifieke dieet te beproef.
Ek was baie lief vir brood, rys en pasta en sou tydens een maaltyd sommer drie porsies verorber. Deur dit tot een porsie per ete te beperk en minder tjoklits te eet, het ek vyf kilogram verloor.
Toe ek sien hoe maklik die vetjies weggesmelt het deur net dié klein verandering te maak, het ek besluit om te begin oefen. Ek het aanvanklik drie keer ‘n week gedraf en het só lief geword vir dié sport dat ek dit nou vyf keer per week doen.
Ek glo nogal aan die beginsel van vyf kleiner etes per dag – dit hou my energievlakke konstant. Dit self is teenstrydig met wat Noakes sê: Hy voer aan dat jy slegs moet eet as jy honger is en dat mense moet wegbeweeg van die idee dat jy ontbyt, middag- en aandete moét eet. Hy sal ook na sy asem snak as hy hoor dat ek elke dag ‘n piesang eet – dit bevat immers die meeste koolhidrate van alle vrugte en is op sy taboe-lysie.
Plaaslike dieetkundige me. Natalie Grobler, is versigtig om haar oor Noakes se dieet uit te laat. “Navorsing is vir my ‘n baie belangrike oorweging. Is daar navorsing oor sy aanbevelings gedoen? Nee. Wat sal die langtermyneffek van sy dieet op pasiënte met hoë cholesterol, kanker en hartsiektes wees? Ook hierop is daar nog nie antwoorde nie.”
Sy stem saam dat mense gewig op Noakes se dieet verloor, maar skryf dit eerder toe aan die feit dat hulle oor die algemeen in elk geval hul kilojoule-inname verminder. ‘n Onlangse studie deur die Universiteit van Stellenbosch het dit bevestig: Mense wat ‘n gebalanseerde dieet volg en hul kilojoule-inname dophou, verloor net soveel gewig as mense wat koolhidrate tot ‘n miminum beperk. Dit is omdat mense op die Banting-dieet óók noodwendig hul kilojoule-inname beperk.
Grobler meen die beste eetplan vir gewigsverlies is die sogenaamde Mediterreense dieet. Dit behels basies die inname van vars groente en vrugte, neute, sade en volgraanprodukte. Botter is verbode en olyfolie word as vetbron ingeneem. Eiers, pluimvee en ander rooivleis word in klein hoeveelhede geëet, terwyl vis en seekos meer dikwels geëet kan word.
“Daar is verskeie gesondheidsvoordele verbonde aan dié dieet,” het Grobler bygevoeg. Sy meen dat baie van Noakes se wenke in elk geval nie nuut is nie en al dekades lank deur dieetkundiges voorgeskryf word. “Net soos Noakes, beveel ek ook my pasiënte aan om suiker te sny en alle gebakte en geprossesseerde kosse liefs te vermy.”
Hoewel sy hulle aanraai om hul inname van sogenaamde maer proteïen te verhoog, maan sy hulle om te alle tye die inname van versadigde vette te beperk. “Verhoog eerder die inname van mono- en poli-onversadigde vette. Goeie bronne sluit avokado, sade en neute in.”
Verder beveel sy goeie kwaliteitstysel in matige porsies aan – nie meer as 30 gram tydens ‘n maaltyd nie. “Maak gebruik van bone, lensies, ertjies, patats, hawermout, mielies, volgraan- en rogbrood.”
Oor gluten het sy verduidelik: “Baie mense is deesdae gluten of eerder, graan-intolerant. Daar is geen toets om te bepaal of jy intolerant is nie, maar simptome sluit ongemak in die buik of ‘n opgeblaasde gevoel in. As iemand wel gluten uit sy dieet sny, sal hy/sy voel dat hul klere gemakliker sit. Jy sal egter tegnies net sentimeters verloor omdat jy nie meer abdominale ongemak het nie, nie soseer gewig nie.”
Grobler beveel ook aan dat mense aan vrugte tussen maaltye peusel. Probeer om sowat twee porsies per dag in te neem. Vermy egter vrugtesappe weens die hoë suikerinhoud.
Sy het benadruk, en ek moet saamstem, dat wat vir een ou werk, nie noodwendig vir jou gaan werk nie. Ons is individue en jy gaan dalk eers na verskeie probeerslae ontdek wat vir joú werk.
Een ding is seker: Gewigsverlies is nie iets wat oornag gebeur nie en verg geduld en toewyding. Troos jou egter hieraan: Almal moes êrens begin…
