MBOMBELA – Innibos is uit die veld geslaan omdat die ANC die regering gevra het om hulle vanjaar te boikot.
Die regerende party het Dinsdag tydens ‘n mediakonferensie gevra dat die regering op beide provinsiale en munisipale vlak die fees boikot. Die konferensie is gehou na die party se provinsiale legkotla die afgelope naweek.
Die party het in ‘n sterkbewoorde verklaring uitgevaar teen Innibos en is van mening dat die kunstefees teenstrydig is met sy en die regering se versoeningspogings van die afgelope 21 jaar. “Dit druis in met ons program van rasse-integrasie. Eenvoudig gestel, die organiseerders van Innibos het dit ten doel om ‘n platform daar te stel wat rassehaat in Suid-Afrika en Mpumalanga aanwakker, veral tussen Afrikaanssprekendes en ander Afrika-gemeenskappe,” lui die verklaring.
Die party meen verder dat die gebeure by verlede jaar se Innibos, met verwysing na Steve Hofmeyr wat “Die Stem” gesing het, wys dat die kunstefees se ideologiese beginsels daarop geskoei is om “wit Afrikaner-meerwaardigheid en -oorheersing” te bevorder. Die verklaring lui verder: “die gebeurtenis (Innibos) wil nuwe lewe in die apartheidskultuur en -erfenis blaas, wat op die beginsel geskoei was dat swartes oor die algemeen en Afrikaners spesifiek, minder mens is, onbeskaafde en barbaarse mense”.
Die party het voorts gevra dat die regering geensins aan die beplanning van Innibos sal deelneem of enige diens sal bied nie, totdat politieke besprekings tussen die ANC en Innibos se organiseerders plaasgevind het.
Innibos het onlangs amptelik aangekondig dat hulle besluit het om Hofmeyr nie na hierdie jaar se fees te nooi nie, juis omdat sy omstrede uitlatings verdeeldheid onder Afrikaanssprekendes en ook tussen laasgenoemde en ander kultuurgroepe, saai. Op ‘n vraag aan mnr. Sibusiso Themba, woordvoerder van die ANC, oor wat meer Innibos moes doen om homself van Hofmeyr se optrede te distansieer, het hy geantwoord: “as Innibos Hofmeyr se optrede verlede jaar nie goedgekeur het nie, moes hulle hom daar en dan gestop het. Ons wil hê die geleentheid (Innibos) moet almal insluit.”
Dit is geen geheim dat dr. Mathews Phosa, voormalige Mpumalanga-premier en voorsitter van die Innibos-komitee en huidige premier, mnr. David Mabuza, deesdae nie langs dieselfde vuur sit nie. Phosa het September dokumentasie aan die ANC oorhandig waarin beweer word dat Mabuza ‘n apartheidspioen was. Mabuza ontken dit ten sterkste en beskuldig Phosa daarvan dat hy die sogenaamde inligting gefabriseer en aan die media gelek het.
Sedertdien was daar gereelde onderonsies tussen die twee. Phosa is verlede maand gevra om die SAKP by ‘n byeenkoms in KaNyamazane toe te spreek. Lede van laasgenoemde party en die ANC het slaags geraak met mekaar en Phosa het die ANC daarvan beskuldig dat hulle die byeenkoms ontwrig het omdat hulle nie politieke moorde wou bespreek nie. Phosa sou die sluipmoorde op onder andere voormalige Mbombela speaker mnr. Jimmy Mohlala en destydse woordvoerder van die departement van sport en kultuur, mnr. Sammy Mpatlanyane, onder die vergrootglas plaas.
Mabuza het op sy beurt ‘n konferensie geroep en onder andere beweer dat hy siviele en strafregterlike klagtes teen Phosa aanhangig gemaak het. Phosa het in reaksie hierop gesê dat hy nog geen dagvaardiging ontvang het nie.
Sedert die ANC se aankondiging hierdie week, is daar wyd bespiegel of dié vraag na ‘n boikot nie ‘n poging van die provinsiale ANC is om Phosa by te kom nie. Laevelder het Themba gepols hieroor en hy het in reaksie hierop gesê dat die vraag na ‘n boikot niks met ‘n individu te doen het nie. “Dit is gebaseer op die voorval verlede jaar. Jy moet verstaan dat dit in die beleidsdokument van die ANC vervat is om ‘n eenheid en sosiale samehorigheid te bevorder en nie Suid-Afrikaners te verdeel nie.”
Me. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, het by navraag gesê dat die fees oor die afgelope 11 jaar ‘n goeie verhouding met die regering gebou het. “Mbombela Munisipaliteit help ons met venues, vullisverwydering, verkeersdienste en hulle verleen ook aan ons die reg om die lamppale in die stad te gebruik om bemarkingsmateriaal op te sit. Op provinsiale vlak, is die departement van kultuur, sport en ontspanning een van ons kontantborge en hul bydrae is ongeveer R400 000, wat hoofsaaklik aangewend word om visuele kunste by Innibos te befonds. Ons wend ook die geld aan om spesiale projekte te loods, soos Stories Innibos – ‘n veeltalige storieboek wat geskryf en geïllustreer word deur kinders van plaaslike skole.”
Jacobs het gesê dat, as die ANC daarop aandring dat die regering van die fees onttrek, sal dit baie hartseer wees, maar dat dit nie die voortbestaan van Innibos sal bedreig nie. Sy het gesê dat elke borg egter belangrik is. Dit kos nagenoeg R18 miljoen om die fees aan te bied.
Sy het benadruk dat Innibos ‘n a-politiese, inklusiewe Afrikaanse kunstefees is wat Afrikaans as kultuur vier binne die konteks dat dit een van die 11 amptelike tale van Suid-Afrika is. “Ons bou graag brûe met ander kultuurgroepe en die fees is beslis oop vir almal wat dit graag wil bywoon. Ons sal geen rassisme of apartheidskultuur hier duld nie en ontken dus die ANC se aantygings ten sterkte.” Innibos se bestuur was reeds in gesprek met die ANC om ‘n vergadering te belê.
Intussen het die DA in ‘n verklaring gesê Innibos kon nie verlede jaar voorspel het wat Hofmey sou doen nie en dat hy in elke geval nie weer by 2015 se fees gaan optree nie. Hulle het gesê die fees se ekonomiese bydrae van R80 miljoen tot die plaaslike ekonomie moet nie onderskat word nie en dat alle gemeenskappe by die fees baat.
Lees ook:
• Hewige reaksie na Innibos Steve nie weer nooi
• Storm bars los oor Steve se Stem
• Mabuza denies political rift
