Hard newsNewsNews

Witwarm woede oor water en krag

Ondernemings moet nou ook van private kragopwekkers gebruikmaak om hul besighede te bedryf, wat hulle nog meer geld uit die sak jaag.

KOMATIPOORT – Woede en moedeloosheid kan ‘n gevaarlike kombinasie wees, veral as hierdie frustrasie uit ‘n gebrek aan basiese dienste voortspruit.

Die gemeenskap se misnoeë borrel soos ‘n kokende ketel en antwoorde word gesoek. Sakelui by die Komati Square-inkopiesentrum is tans besig om allemintige verliese as gevolg van die water- en elektrisiteitskrisis in die dorp te ly.

“Vir die afgelope paar dae was dit al aan en af. Ons yskaste is leeg en die koeldranke is warm. Ons sal dit moet weggooi. Al ons ysies het ook gesmelt en weens die hitte was dit een van ons topverkopers,” het ‘n ontevrede werknemer genoem wat anoniem wou bly. Ondernemings moet nou ook van private kragopwekkers gebruikmaak om hul besighede te bedryf, wat hulle nog meer geld uit die sak jaag.

“Dink net hoeveel diesel ons gaan gebruik in slegs ‘n week. Die kragopwekkers gaan naderhand ook gediens moet word en kan net sóveel krag verskaf. Dit is besig om ‘n nagmerrie te word,” het ‘n ander eienaar gekla.

“Ons ly groot skade in terme van voorraad en verkope. Kan ‘n mens eise vir al die verliese instel?” het ‘n ander gevra wat ook raadop is.

Mnr. John Munguambe, bestuurder van Debonairs Pizza, Fishaways en Wimpy het genoem dat sy grootste vrees die gebrek aan koelkamerfasiliteite is.

“My bestanddele is besig om nat te word omdat die koelkamer nie meer op die optimale temperatuur kan vries nie. Die vleis en aartappelskyfies kan net só lank hou,” het hy genoem.

Munguambe het ook gesê dat hy net Debonairs met sy kragopwekker kan bedryf en nie terselfdertyd vir Fishaways nie.

“Daar is net te min krag. My inkomste het sedert die kragonderbrekings met 30 persent gedaal,” het hy moedeloos bygevoeg.

Die gebrek aan water en elektrisiteit hou ook ander gevolge vir besigheidseienaars in wat nou alternatiewe maniere gaan moet vind om hul winkels skoon te hou.

“Ons kan nie ons vloere behoorlik was nie angesien daar nie water is nie. Higiëne is verskriklik belangrik,” het me. Karin Johnstone van Corridor Butchery gesê.

Intussen trek inwoners swaar en weet nie wanneer hulle weer ‘n stort sal kan neem of ‘n warm bord kos sal kan maak nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button