Hard newsNewsNews

Nuwe wiele het geen diensplan

‘n Verbruiker het onlangs ‘n bloutjie geloop toe hy na die aankoop van ‘n splinternuwe TATA Xenon in Februarie verlede jaar, sy motor vir sy eerste diens geneem en met ‘n skok besef het dat hy nie, soos beloof, ‘n diensplan het nie.

MBOMBELA – ‘n Verbruiker het onlangs ‘n bloutjie geloop toe hy na die aankoop van ‘n splinternuwe TATA Xenon in Februarie verlede jaar, sy motor vir sy eerste diens geneem en met ‘n skok besef het dat hy nie, soos beloof, ‘n diensplan het nie.

‘n Verkoopskonsultant by die TATA-handelaar in Mbombela het na bewering vir kapt. Tlou Masegela, van sy aanvanklik besluit om ‘n bakkie met ‘n 2,2-liter aan te koop, laat afsien en hom oorreed om eerder die een met die drieliter-enjin aan te skaf. “Ek het regtig van die 2,2-liter gehou, en alhoewel die man aan my vertel het hoeveel beter die groter enjin-opsie is, was ek vas oortuig dat dit eerder my eerste keuse was waarin ek belangstel,” het Masegela aan Laevelder vertel.

Hy sê dat hy spesifiek vir die konsultant gevra het of die bakkie ‘n diensplan het, waarna hy glo Masegela verseker het dat dit deel van sy pakket is. Intussen het hy glo weer met dié TATA-werknemer gepraat, en dié het hom weer vertel dat die motor wel oor ‘n diensplan beskik.

TATA se hoofkantoor in Gauteng is in dié verband gekontak. Me. Charmaine Veerasamy, kliëntediens-konsultant, het bevestig dat die voertuig wat Mesengela gekoop het, nie oor ‘n diensplan beskik nie, en dat dit ook nie in die aanvanklike pakket ingesluit was nie. “Ons het kopieë van die verbruiker se kontrak, en daar is geensins geteken vir ‘n diensplan nie,” sê Veerasamy. TATA herinner ook ander verbruikers daaraan om kontrakte altyd deeglik deur te lees en doodseker te maak van wat daarin staan, voordat hulle teken.

Veerasamy het Masegela om verskoning gevra en verskeie opsies vir ‘n diensplan aangebied. Hy het Dinsdag sy motor geneem vir sy eerste diens, wat hom R1 500 uit die sak gejaag het. Hy vrees reeds sy volgende diens wat R3 000 gaan beloop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button