
MBOMBELA – Eienaars van watergate in die Laeveld en regoor die land moet kennis neem: hulle sal voortaan, ingevolge die nuwe drankwetgewing, gratis kondome by hul kuierplekke moet voorsien.
Hulle sal ook in die vervolg elke jaar hul lisensies moet hernu. Nuwe nasionale reëls oor die vervaardiging, verspreiding en verkoop van alkohol het die afgelope Vrydag in werking getree.
Die Nasionale Drank Norme en Standaarde in terme van die Drankwet van 2003 is op 13 Februarie in die Staatskoerant deur die minister van handel en nywerheid, mnr. Rob Davies gepubliseer.
Die LiquorWise-afdeling van The Licence Co sê hulle verwag dat die jaarlikse hernuwing lisensiehouers heelwat meer uit die sak gaan jaag. Die reëls geld in alle provinsies om eenvormigheid in die toepassing van drankwette te bewerkstellig: “Dit sal voorkeur geniet waar dit bots met provinsiale drankwette,” sê mnr. Jurie Zietsman, direkteur van LiquorWise.
Mpumalanga se drankwetgewing is verlede jaar aangepas. Volgens die nuwe wet wat op 30 Augustus 2014 in werking getree het, mag drankwinkels in die provinsie nou ook Sondae drank verkoop, mits hulle toestemming van die betrokke munisipaliteit verkry.
Die nasionale reëls skryf egter handelsure voor waar munisipaliteite dit nie in bywette voorskryf nie. Mbombela Munisipaliteit het nie bywette nie. Die tye vir die verkoop van drank deur supermarkte en drankwinkels op Sondae is van 09:00 tot 17:00. Ondernemings soos restaurante mag van 10:00 tot middernag drank verkoop en nagklubs mag van 18:00 tot 06:00 handel dryf.
LiquorWise het ook verduidelik dat, ingevolge die nuwe reëls, binneverbruikpersele soos restaurante, kroeë en taphuise geen wapens daar mag toelaat nie.
Kondome en water moet ook verniet beskikbaar wees. Die beskikbaarheid van toiletgeriewe, ook vir mense met gestremdhede, asook veiligheids- en ontruimingsmaatreëls, is nou ook verpligtend.
Buiteverbruikpersele soos drankwinkels en supermarkte moet voorts rekord hou van transaksies waartydens meer as 25 liter drank aan ‘n lid van die publiek verkoop word en dit moet vir vyf jaar gehou word. Die volume drank en rede vir die aankoop moet gemeld word.
Boonop sal alle lisensiehouers jaarliks ‘n belasting- en polisieklaringsertifikaat moet indien om hul lisensie te hernu.
“Meer as 50 000 addisionele sertifikate sal jaarliks uitgereik moet word slegs vir hernuwings deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), polisie en plaaslike owerhede,” sê Zietsman.
Hy voeg by dat rolspelers in die drankbedryf egter geen afname in drankverbruik verwag nie.
Mnr. Neels Heyneke van Platinum Liquor Licencing Services in Mbombela sê die nuwe wetgewing is ‘n goeie maatreël om sake in verskillende provinsies meer vaartbelyn te maak.
Hy wys egter daarop dat blote klarings van SAID en die SAPD vir hernuwings benodig sal word, en dit nie betalings aan hulle sal verg nie.
Navrae: Heyneke by platliq@hotmail.com of Liquor Wise by liquorwise.net


