Kombuis bekoor met treffers
"Vriendskappe en verhoudings het in die slag gebly en die stigma van alternatiewe musikant sou vir altyd aan ons loopbane bly kleef."
MBOMBELA – Vrydagaand was dit behoorlik lente in die Laeveld toe die immergewilde André le Roux du Toit, of te wel Koos Kombuis, die gehoor met ‘n langverwagte vertoning by The Pub aan sy lippe laat hang het.
Hier het Koos die gehoor met sommige van sy bekendste treffers bekoor, wat onder andere “Lisa se klavier”, “Bicycle sonder ‘n slot” en “Lente in die Boland” ingesluit het.
Koos, wat in November sy 61ste verjaardag sal vier, het in die laat 80’s met sy eerste plaat – Ver van die Ou Kalahari – bekendheid verwerf. Alhoewel dit deur die sensuurraad as ongewens gebrandmerk is, het Koos, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand in 1986 die Voëlvry Toer aangepak.
“Ons het die idealistiese droom gehad om die apartheid-regime met ‘n paar liedjies vol woede, bravade en vloekwoorde omver te werp,” verduidelik Koos en vertel van hul optredes by kampusse en in “obskure sale” landwyd waarna hulle vinnig in die visier van die veiligheidspolisie en ander bewakers van apartheid beland het.
Koos meen die invloed wat die toer op die politieke bewussyn van die Afrikaanse jeug en latere Afrikaanse musikante gehad het, is al wyd bespreek en bestudeer, maar die persoonlike prys wat hulle betaal het, was hoog.
“Vriendskappe en verhoudings het in die slag gebly en die stigma van alternatiewe musikant sou vir altyd aan ons loopbane bly kleef.”
Ongeag dié stigmas is Koos vandag waarskynlik een van die gewildste Suid-Afrikaanse, en ook Afrikaanse musikante wat die 60-jarige merk oorsteek. ‘n Propvol dagboek vir 2015 en ‘n stampvol The Pub wat herhaaldelik skree: “We want more, we want more”, het Vrydagaand hiervan getuig.
https://www.youtube.com/watch?v=C8mq4KznlR0&feature=youtu.be
