Editor's choiceNewsNewsSchools

Robbies-hoof en kollegas kamp op die pawiljoen se dak

Die hoof, adjunkhoof van sport en atletiekorganiseerder het gisteraand op 'n ongewone plek gekamp om die skool se prestasies by Interhoër 2015 te vier.

Die dak van die noodhulpkamer is gisteraand as ‘n kampeerplek ingespan toe drie van Hoërskool Rob Ferreira se onderwysers daar geslaap het.

Mnre. Dawie Oberholzer (hoof), Francois McGill (adjunkhoof: sport) en Stefan van der Merwe (atletiekorganiseerder) het die hoogtes en onstabiele loopvlak aangedurf omdat die skool Saterdag by die Interhoër ‘n tweede plek ingepalm het.

Ek het net na half sewe by die drie op die dak aangesluit om ‘n foto van die ongewone gebeurtenis te neem en ‘n bietjie oor die uitdaging te gesels.

Op uitnodiging, klouter ek toe wwe manhaftig teen die wankelrigte leer op, handsak en kamera-sak oor die skouer en trek my tot op die dak. Toe beweeg ek verder teen ‘n slakkepas soos die dak buig en kraak en veroorsaak heelwat vermaak vir die drie wat reeds bo is.

Tot my verbasing het die mans twee tente opgeslaan, ‘n braai op een of ander manier bo-op die dak gekry en sit gemaklik en kuier op kampeerstoele. Ek sluit by hulle aan na die gebruiklike groetery, krap my notaboek en pen uit en begin die hoof uitvra oor hul vreemde kampeerplek.

“Om die kinders te motiveer om een posisie op te skuif en Hoërskool Lydenburg te klop het ek die kinders belowe dat ons drie op die pawiljoen se dak sal slaap as hulle dit regkry,” vertel die hoof. Die leerlinge het egter nie gedink hy is ernstig nie, meen hy.

Dawie sê hy en die ander personeel het tydens Saterdag se stryd behoorlik naels gekou. “Die onderwysers en afrigters het baie hard gewerk. Teen die einde van die dag het  ‘n paar van ons egter net gefokus op die feit dat ons Lydenburg moet wen.” Ondersteuners, personeel en leerlinge was verheug toe hulle dit regkry om hul hoof-teenstanders met 13 punte te klop.

“Ek glo die prestasie is baie goed vir die ouers, kinders en die dorp. Ons is die tweede kleinste skool by die byeenkoms gewees en kyk wat het ons reggekry,” sê die hoof trots.

Hy is Sondag by die kerk herinner aan sy belofte aan die leerlinge en moet toe voorbereidings begin tref. Die mans vertel dat hulle eers op die klubhuis se dak wou slaap (wat aansienlik laer is), maar dat die helling van die dak dit nie toegelaat het nie. Hulle het toe besluit om eerder op die noodhulpkamer se dak te slaap, wat meer gelyk en in sekere opsigte veiliger is. Die dak maak egter ‘n Mexican wave as die wind ‘n bietjie sterker waai, spot die hoof.

Francois, wat vir aandete gaan sorg, steek die vuur op en Dawie gesels oor voorbereidings vir volgende jaar se Interhoër. “Dis volgende jaar by Lydenburg, so hulle begin nou al regmaak daarvoor. Ons gaan ook aan swakplekke werk en verbeter waar nodig,” vervolg hy.

Ek wonder hardop hoe die mans gaan besig bly tot slaaptyd en of hulle vroeg gaan inkruip. Dawie glimlag en wys na ‘n notaboekie op sy koelhouer. “Ons gaan die jaar se atletiekbeplanning doen. Ek het reeds ‘n paar aantekenings gemaak.”

Francois vroetel by die vuur en die hoof vertel dat daar allerhande goed in foelie op die spyskaart is vanaand. “Vleis, groente, selfs nagereg,” voeg die kok by.

Skemer sak toe en ek staan versigtig op om ‘n foto van die spulletjie te neem voordat dit te donker raak. Die mans lag as ek voetjie-vir-voetjie agtertoe of vorentoe skuifel om hulle drie, die tente en die braai tegelyk in die venstertjie te kry.

“Dis soos een van daardie videos waar die kamerapersoon al hoe verder terug loop om almal in te kry en op die ou einde van iets afval,” spot een.

Ek lag senuagtig saam en skuifel weer tot by die stoel om my sakke op te tel. Stefan vat ewe galant my hand as ek stadig teen die effe-skuins sinkdak afloop en Francois klim eerste af om my sakke te vat. In ‘n japtrap, met een hand op ‘n stewige vashouplek, seil ek teen die leer af en slaak ‘n sug van verligting toe ek veilig op die grond is.

Die mans groet en ek stap effe bewerig na my kar toe. #fearless, dink ek en besluit dat ek liefs nie weer op ‘n dak wil rondklouter nie.

Vanoggend wil ek ewe nuuskierig by een van die skool se onderwyseresse weet hoe die res van die aand verloop het. “Hulle het lekker geslaap, sê die hoof,” staan daar in die facebook-boodskap, “maar hy het al half vyf sy bedjie opgepak en afgeklim!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button